louis
Het jy gehoor?

Sanger se stembande maak hom stil

Romanz-sanger Louis Loock het onlangs ‘n poliep op een van sy stembande gekry. Hy mag nou vir 3 maande glad nie sing nie. Maar Louis het nog talente, soos skryf en skilder, en groot nuus is dat sy nuwe boek, ‘n Plekkie onder die son, binnekort verskyn. Lou-Ann Stone het met hom gesels

Jy’t in April uitgevind daar’s ‘n poliep op jou stembande. So ‘n diagnose het ‘n enorme impak op ‘n sanger se lewe. Hoe gaan dit nou? Is dit intussen verwyder?
Daar is een poliep gediagnoseer op een van my stembande. Dit is glad nie lekker om te hoor nie. Dit is soos ‘n atleet wat ‘n been verloor, of ‘n boekhouer wat ewe skielik nie 1 plus 1 kan uitwerk nie. Ek is vir drie maande afgeboek en mag nie ‘n noot sing nie.

Ek kon ‘n verandering begin voel en my stem is stadig maar seker besig om te herstel. Die poliep is nie verwyder nie, want die dokter het gesê die konserwatiewe manier van genesing (rus) is die beste behandeling. Veral as jy te doen het met ‘n sanger wat afhanklik is van sy stem. Ek sien hom die 7de Julie vir ‘n opvolgtoets, waarna ons gaan kyk of die poliep weg is. Ek bid en glo dat dit wel so gaan wees en dat dit nie nodig gaan wees vir chirurgie nie.

Hoe’t jy gevoel toe jy die nuus kry?
Bang en onseker. Ek het gelukkig ander talente soos skryf en skilder, maar sang is my eerste liefde! Daar is ook baie om in gedagte te hou. Drie ander sangers wat ook afhanklik is van Romanz om te oorleef. Een skakel wat uittree, kan ‘n enorme invloed hê op Romanz. My stem en al die harmonieë was egter op die backtracks ingesit, so die klank het presies dieselfde gebly.

Vertel my bietjie meer van jou boek wat binnekort bekendgestel word. Is dit basies jou liedjies/lirieke/skryfwerk in boekvorm of wat kan ons van ‘n Plekkie onder die son verwag? Hoekom ‘n boek, en nie byvoorbeeld eerder ‘n solo-album nie? Ek het alreeds vier jaar terug my eerste solo-album opgeneem. Ek skryf die boek omdat ek ‘n kunstenaar is en uiting moet gee aan ‘n kreatiewe kant. Ek skilder ook graag. ‘n Boek en skildery gaan nie gemeet word aan Romanz nie, waar ‘n solo-album nie nou al reg is vir die rakke nie. Romanz doen te goed.

Waar gaan jou boek beskikbaar wees?
Op hierdie stadium is die verspreiders besig om met die winkels te onderhandel. Ek hoop dit sal in die meeste boekwinkels beskikbaar wees. Maar dit sal ook op Facebook en ander webblaaie beskikbaar wees.

Is daar nog iets in die pyplyn vir die Louis Loock Song and Script? Ja. Baie. Ek is reeds besig met my tweede boek. En sal graag ander mense se skryfwerk ook wil publiseer. Ek het ook ‘n magdom liedjies geskryf wat ek graag wil voorlê vir ander sangers. Ek is net so besig, want om te sing, skryf en skilder is moeilik om alles in ‘n 24 uur-dag in te pas.

Waar, volgens jou, hou Romanz hulle lekkerste shows? Ek is mal oor feeste. Jy sien jou medesangers en vriende agter die verhoog.

  • Roenel

    Louis, ek plaas jou in gebed. Die Here is Groot. Hy sal jou stem genees. Ons hoor weer binnekort van jou. Hou moed en geloof.