sc1111pics86
Het jy gehoor?

SARIE-mode-assistent maak kos vir prins Charles se kuier

“Ek het my tannie, Annelize Buchanan, gehelp. Sy doen gereeld spyseniering vir belangrike persone,” vertel Elsabé aan sarie.com.

Annelize het ook onlangs die spyseniering vir emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu se 80ste verjaarsdag gedoen.

Die naweek se verrigtinge was op die Vergelegen-landgoed buite Somerset-Wes. “Dit was ’n klein geselligheid wat deur Anglo Gold gehou is,” gaan Elsabé voort. “Daar was sowat 100 mense. Prins Charles en Camilla was vir byna twee uur daar, en die sekuriteit was baie streng.”

Dit was ‘n vroegaand-geleentheid, daarom is net canapés bedien. Alhoewel hulle kos uit die boonste rakke gemaak het, kon die prins weens sekerheidsmaatreëls nie daarvan eet nie. Een van sy lyfwagte het vir prins Charles ’n Martini uit ’n verseëlde silwer kis geskink.

Elsabé se geoefende mode-oog het sy mooi donkerblou pak waardeer. “Ons kon nie te naby aan hom kom nie. Om seker te maak niemand steur hom nie, het sy wagte van groep tot groep saam met hom geloop terwyl hy geselsies aangeknoop het.”

Canapés soos salm-rose, filo-pakkies met hoender en mango-salsa en oesters is van die heerlikhede waarop die koninklike gaste getrakteer is en wat die prins moes ontbeer.