Schalk Bezuidenhout
Het jy gehoor?

#SARIEgesels met komediant Schalk Bezuidenhout

Hy’s die snaakse ou wat op ’n Woensdagaand vir ander liefde soek op VIA se Die kliek, hy laat mense skaterlag as stand-up-komediant en wen toekennings vir sy humor.

Maar agter die snorretjie (“meer Franse polisieman as Afrikaanse polisieman”) is Schalk eintlik nogal ernstig. Ons leer ken dié talentvolle 23-jarige.

Schalk Bezuidenhout

Jy het die gewone dinge gedoen soos dit elke jong man betaam, skool en  universiteit toe gegaan. Hoe het die magic daarna gebeur?

Ek het nooit weermag toe gegaan nie. Ek het na die Universiteit van Kaapstad toe gegaan om ’n dramakursus te volg, hulle het 30 mense gekies en ek was nie een van hulle nie, die tweede keer het hulle my aanvaar. Ek het ook ’n BA-graad gedoen (maar net vir 1 jaar), toe beweeg ek in komedie in.

Van waar jou liefde vir komedie? 

Komedie is ’n groot liefde van my. Ek het op skool dramaklasse geloop en het altyd vir die snaakse rolle gegaan. Ek het nooit eintlik stand-up as ’n loopbaan oorweeg nie, want ek het gedink mense sal my dan nie ernstig opneem as akteur nie. Maar ek het intussen agtergekom dít is ’n naïewe manier van dink. Jy kry akteurs soos Riaad Moosa en Rob van Vuuren wat baie gerespekteer word as ernstige akteurs sowel as komediante. Albei dié komediante speel in Long Walk to Freedom en gee briljante, ernstige performances in die prent.

Vertel meer oor The Afrikaans Comedy Show wat jy op 5 Desember aangebied het.

Dit was ’n groot eer om saam met Casper de Vries op te tree, en ook saam met Hannes Brummer en Melt Sieberhagen. Die kaartjies was uitverkoop. Casper de Vries was van jongs af my kinderheld en dit was ongelooflik om die verhoog met hom te deel.

Baie geluk met jou Comics’ Choice-toekennings verlede jaar. Wat beteken toekennings vir jou?

Dit is ’n baie groot kompliment. Dis altyd lekker om nie net die respek van jou gehoor te hê nie, maar ook van jou kollegas in die bedryf. En dit is so met dié toekennings, want dit is jou mede-komediante wat vir jou stem.

Jy is ’n all-rounder – van verhoog na TV as aanbieder van Die kliek. Hoe moeilik was dit om oor te skakel? Knaag die senuwees by tye as die kameras op jou is, want jy het immers meer vryheid op die verhoog?

TV is makliker, want jy kan jouself herhaal as jy ’n fout begaan het, maar op die verhoog kry jy net een kans.

Hoe ervaar jy die vroue en die manne van Die kliek?

Hulle is almal oulike deelnemers. Die kliek is baie cool, maar tog moeilik om aan te bied, want jy moet heeltyd op jou voete kan dink. Jy kan immers nie met ’n mond vol tande staan terwyl die kameras rol nie.

As ek myself in die skoene van die manne sit, is dít moeiliker as wat ek gedink het. Veral daardie oomblik as die ou vir die laaste keer die meisies moet oortuig om vir hom te klik in die laaste ronde.

Waar koop jy jou retro-styl klere? Die pak wat jy by die Comics’ Choice-toekennings gedra het, spreek boekdele.

Ek is mal oor interresante klere en koop my klere by tweedehandswinkels. Vir die toekennings het ek in Langstraat (in Kaapstad) ’n rooi-en-swart geruite pak laat maak. Ek sal altyd my styl behou soos ek ouer word.

Hoe lank gaan jy en jou meisie al uit? Sy het gesê jy bak lekker poetse by die huis. Hoor jy al trouklokkies in die agtergrond lui?

Haar naam is Louise en op 4 Februarie gaan ons al ’n jaar uit. Ons het verlede jaar in Oktober saam ingetrek, ons verhouding is ernstig. Ek hou daarvan om so nou en dan kattekwaad aan te vang, dit hou die verhouding lewendig.

Jy het die voorvertoning gedoen by een van Trevor Noah se optredes. Was jy onder druk met so ’n groot naam, of sien jy jouself eendag in sy stoel sit? Wat leer komediante bymekaar?

Dít was amazing. Daar is druk om saam met ’n groot naam soos Trevor op te tree, maar ná ’n paar shows ontspan jy en geniet dit.

Met komedie streef jy om beter te word. Vir eers wil ek in Suid-Afrika werk en leer, my naam maak. Komediante leer baie van mekaar, niemand dink hulle is beter as die ander nie.

Wil jy die wêreld oorrompel met jou humor of is jy proudly South African?

My mikpunt is om soveel mense te laat lag as wat ek kan. Ek is trots Suid-Afrikaans en dit sal altyd my tuiste bly. Maar as daar ’n geleentheid kom, sal ek oorsee reis – ek dink my humor kan oor baie grense strek.

Schalk Bezuidenhout