FOTO: Instagram (@henniewtf)

Het jy gehoor?

#SARIEraai – wie is dié aktrise

Kan jy raai wie dié aktrise is? Wenk: sy vermaak ons al vir jare as geliefde karakter in ’n gewilde tv-sepie en is binnekort ook te sien in haar eerste Innibos-produksie …

Verhoog-regisseur Hennie van Greunen het dié foto van die ster in 4000 myl, wat by Innibos opgevoer gaan word, vanoggend op Instagram gedeel. Hier dra sy haar pruik en grimering vir die produksie se repetisie.

Dis Annelisa Weiland, beter bekend as Hilda in die SABC 2-sepie 7de Laan. Annelisa vertolk vanjaar die rol van die 91-jarige Vera in Hennie se nuwe produksie.

“Baie keer as ’n mens na ou mense kyk, sien jy hartseer, verlore mense. Maar Vera is feisty. Sy is glad nie selfbejammerend nie, maar intellektueel en filosofies,” het sy vroeër vanjaar aan SARIE.com vertel. Lees die volle artikel hier.

Annelisa Weiland, Hilda in 7de Laan FOTO: Phyllis Green

Annelisa Weiland, Hilda in 7de Laan
FOTO: Phyllis Green

“Ek is mal oor die produksie. Dis nie vreeslik dramaties nie, maar tog sensitief en die karakters is goed geskryf,” het sy uitgewei. “Hennie het ’n wonderlike oog vir detail en opregtheid. Dit sny reg deur tot die senuwee van die stuk.”

Hennie het 4000 myl, wat deur die Amerikaanse dramaturg Amy Herzog geskryf is, self vertaal. Die nuustydskrif Time het dit in 2012 aangewys as toneelstuk van die jaar. Die produksie, wat gaan oor hoe die verhouding van ’n 91-jarige vrou en haar kleinseun ná ’n traumatiese ervaring verander, sal vir die eerste keer in Suid-Afrika en in Afrikaans by vanjaar se Innibos gesien word.

Viljé Maritz en Crystal-Donna Roberts (Pasella) speel saam met Annelisa in dié produksie. Crystal-Donna is ook deel van Hennie se produksie Rondomskrik, wat goed gevaar het by vanjaar se KKNK. Hier praat Crystal-Donna met SARIE.com oor haar rol in dié toneelstuk.

Innibos vind 2 tot 5 Julie in Nelspruit plaas.

Nóg in #SARIEraai