odelle de wet lees nou block
Het jy gehoor?

Sepie-koningin Odelle de Wet na KKNK-verhoog

Die sepie-koningin Odelle de Wet tree by die KKNK op in Dirk Ligter‘n toneelstuk uit die pen van Albert Maritz en onder regie van Lara Bye.

Aktrise Odelle het al ’n draai gemaak in al wat sepie is: Isidingo (SABC 3), 7de Laan (SABC 2), Binnelanders (M-Net) én Villa Rosa (kykNET), maar nou gaan dié sepiester weer verhoog toe …

“Ek sien uit na die verskillende rolle wat ek daarin vertolk. Dit is soos my droom-rol. Diep emosies, vermeng met komedie, baie fisieke teater … ek kan nie wag om te begin repeteer nie,” sê sy oor haar rol in Dirk Ligter. Dit is ’n ware verhaal en gaan oor ’n wit man wat ’n bruin vrou swanger maak en die lot van die kind.

Vir die Karoo-aksent wat sy moes baasraak in dié stuk, het sy onder meer met mense van dié kontrei gepraat. “Ek het ook opnames van mense uit die omgewing gekry en na hul stemme geluister.”

Haar werk bly vir haar ’n konstante uitdaging. “Die permanente onsekerheid, om die kyker régtig te laat glo ek ís daardie karakter, om die gehoor emosioneel te betower, te weet jy is altyd net so goed soos jou laaste optrede en nederig te bly ten spyte van al die aandag wat akteurs soms kry, verg harde werk.”

Sy reken jare se werk as sepie-aktrise het haar baie geleer. Op 23 het sy 4½ jaar die rol van Farrow Bornman in Isidingo vertolk. “Ek het soveel vryheid gehad en kon die karakter natuurlik speel. Hul styl is baie real, meer messy as ander sepie-stelle.”

Van 2012 tot 2014 was sy die slinkse Delia Richter in Binnelanders. “Daar het ek vinnig die tegniese kant van die sepiewêreld leer ken. Ek is ook in die diepkant gegooi met Afrikaans. Jare lank, by Isidingo, het ek net in Engels gedink. My brein moes skielik anders leer dink. Dit was baie stresvol. Hulle was ook baie meer woordvas, dus was dit belangrik om my woorde goed in te studeer!”

Een van haar “lekkerste” karakters, was dr. Lynette Lindeque by 7de Laan (April tot Mei en toe weer November 2014 tot Maart 2015). “Sy was vriendelik. Mense het my nie gehaat nie. Yay! ’n Goeie mens, wat ’n lekker afwisseling was van die feekse wat ek gewoonlik speel. Dit was ook lekker om ’n vaste roetine te hê. Ek het soggens om vyf opgestaan. Dit werk vir my.”

Die produksie Villa Rosa (Mei tot einde Julie 2014), waar sy die rol van Maryke van Rhyn vertolk het, het weer wonderlike mense oor haar pad gebring. “Hulle het geldelik met baie minder klaargekom as die groter sepie-spanne, maar die gehalte van die sepie was goed en ons spangees was heerlik.”

Odelle het met die jare geleer hoe om haar senuwees te beheer. “Joga help baie met visualisering en asemhaling. Jy moet senuwees kanaliseer in goeie adrenalien wat karakters lewe gee. Skoenlappers op die maag kan goeie energie wees. En my ma het my geleer niks hou kers vas by voorbereiding nie.”

FOTO: Verskaf aan SARIE.com

FOTO: Verskaf aan SARIE.com

Sy sal ook nie sommer die goeie raad vergeet wat sy by die teaterlegende Tobie Cronjé gekry het nie: “Daar moet altyd ’n weergawe van jouself op jou skouer sit wat alles (insluitend jouself) dophou. Die waarnemer.”

Lees ook