Het jy gehoor?

Die dag toe Shania Twain haar stem verloor het

Shania Twain het in Mei vanjaar haar eie kletsprogram, Why not? with Shania Twain, op die Oprah Winfrey Netword (OWN) begin aanbied.

Op 2 Junie vanjaar het sy boonop haar welverdiende ster in die Hollywood Walk of Fame gekry en sy bly tot vandag toe die beste country-verkoper van alle tye.

Maar drie jaar gelede het dinge heelwat anders gelyk. Dit het so sleg gegaan dat sy haar stem verloor het…

Die Kanadese country-sangeres se stem was net weg nadat haar huwelik met die platevervaardiger Mutt Lange in 2008 verbrokkel het. Dit was so erg dat sy nie eens in die stort kon sing nie, berig starpulse.com.

Só het sy onlangs op Amerikaanse TV vertel met die aanvang van haar nuwe TV-reeks Why Not? with Shania Twain waarin gewys word hoe sy haar sangstem probeer terugkry. Sy het ook daaroor geskryf in haar outobiografie, From This Moment On, wat onlangs uitgereik is.

Lees wat sê die dokter oor dié verskynsel:

Kyk na die video waar sy aan Oprah vertel hoe sy van rock bottom gekom het tot waar sy vandag is.

Jy kan die stemkas van ’n sanger vergelyk met die liggaam van ’n top-atleet, verduidelik dr. Rory Attwood, stemspesialis by die Tygerberg-hospitaal in Bellville, wat ook vir Zanne Stapeberg behandel het.

“Spiere, gewrigte en kraakbeen moet perfek saamwerk by atlete. Enigiets wat daarmee inmeng, sal ’n atleet kortwiek.”

By sangers kan emosionele trauma en stres ’n uitwerking hê op stemproduksie. Fisieke trauma kan onder meer heesheid of ’n baie sagte stem veroorsaak. Te veel oefening kan die stembande laat swel of verswak. Erge sooibrand kan suur veroorsaak wat die “voering” van die stembande irriteer, swelling tot gevolg het en stemgehalte verswak.

Al dié stemveranderings staan bekend as “stemverlies”. Hormonale veranderings, sowel as die emosionele spanning ná ’n miskraam, kan daartoe bydra. Sommige sangers se stem verander selfs tydens menstruasie!

Na gelang van die trauma moet die stem minstens vier tot ses weke rus. Spraakterapie en die ondersteuning van ’n goeie sangdosent is noodsaaklik.

Pasiënte hervat geleidelik hul sang-oefenprogram. Dit duur gewoonlik drie tot ses maande voordat die stem heeltemal herstel, vertel dr. Attwood.