Flieks

Sharlto Copley sing Afrikaans in nuwe Hollywood-fliek

Dié Suid-Afrikaanse akteur sê sy gunsteling toneel in sy nuwe fliek, Elysium, is waar hy die Afrikaanse kinderliedjie Jan Pierewiet sing.

Sharlto het Dinsdagoggend aan die Breakfast Xpress-span gesê hy het nooit gedink die liedjie sal régtig in die fliek gebruik word nie. “Dit is sekerlik my gunsteling toneel in die fliek, want wát is die kans dat ‘n Afrikaanse kinderliedjie in ‘n $110 miljoen wetenskapfiksie-fliek gesing word? Ek dink mense móét die fliek gaan kyk, want hulle gaan nie sommer weer só iets beleef nie,” het hy gesê.

Die fliek, ook met Matt Damon en Jodie Foster, speel in die jaar 2154 af waar daar twee klasse mense bestaan. Die eerste klas is ‘n klomp baie welgestelde mense wat op Elysium, ‘n mensgemaakte ruimtestasie, woon, terwyl die res op ‘n oorbevolkte, verwoeste aarde woon. Sharlto vergelyk die lewe op Elysium met ‘n baie streng beveiligde area in Sandton. “Dit is amper soos ‘n tipe Sandton in die lug, en almal op die aarde streef daarna om ook daar uit te kom.”

Hy sê dit was baie pret om dié duur fliek te skiet, omdat sy karakter ‘iets anders‘ en baie vermaaklik is. “Dit is makliker om ‘n fliek te skiet as daar baie geld is. Ek het ook gekies om die skurk in die fliek te speel. Toe ek die teks lees, het ek vir Neill (die regisseur) gesê dit sal interessant wees om die skurk te speel. Dis iets anders as wat ek en hy met die vorige fliek (District 9) gedoen het.” Sharlto het erken dat hy aanvanklik baie senuweeagtig oor dié rol was. “Dis moeilik om ‘n Suid-Afrikaanse skurk in ‘n Hollywood-fliek te wees.” Hy het gespot en gesê dit is die eerste keer dat ‘n tipies Johannesburg-Suid aksent in ‘n Hollywood-fliek gedoen is.

Dié fliek het reeds 30 Augustus in Suid-Afrikaanse rolprentteaters begin draai. Hier is ‘n lusmakertjie: