FOTO: Instagram/@festivaldecannes

FOTO: Instagram/@festivaldecannes

Het jy gehoor?

Dié SA rolprente op pad na Cannes

Mooi mense, stylvolle klere, sjampanje – ’n geroesemoes van kleure en geure, opwinding wat soos soet parfuum hang in die lug (natuurlik peperduur parfuum ook!), halse wat blink van die diamante – dít alles is elemente van die Cannes-rolprentfees wat vandag in dié sjiek stad Cannes aan die Franse Riviera begin. En wat ons tot 22 Mei opnuut sal aanvuur om koerante, glanstydskrifte, celeb-webtuistes en vermaaklikheidsprogramme op die televisie dop te hou.

Want Cannes is cool. As jy dáár is, het jy dit gemáák, sê hulle.

Kyk hoe word die rooi tapyt uitgerol vir dié fees

H-24 : nous sommes prêts ! Et vous? / H-24 : we are ready ! Are you? #Cannes2016 #redcarpet

A video posted by Festival de Cannes (@festivaldecannes) on

Hoe trots Suid-Afrikaans kan ons nie wees nie: uit vanjaar se 387 beoordelaars, wat uit veertig lande kom, is nege Suid-Afrikaners. En veertig persent van die totale getal beoordelaars is vroue, teenoor verlede jaar se 31,5 persent.

Rolprente word in verskeie kategorieë vertoon. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) vertoon vanjaar Free State, Mrs Right Guy, Kalushi, Happiness is a Four-letter Word en Sink as deel van sy bemarkingsveldtog. Dié rolprente staan dus nie in die ry vir toekennings nie, maar stel vervaardigers en regisseurs in staat om te netwerk met mense in die bedryf.

Brett Michael Innes, die regisseur van Sink, woon die fees by en vertel: “Ek is baie opgewonde om te sien hoe internasionale rolprent-aankopers en verspreiders daarop gaan reageer. En ek sien uit na die netwerk-geleenthede vir my volgende projek. Is daar ’n béter plek om dit te doen as die suide van Frankryk?’’ Anél Alexander, wat een van die hoofrolle in dié rolprent vertolk het, het verlede jaar bemarking daarvoor by Cannes gedoen, maar sy en haar man, James, is vanjaar met vakansie en sal nie die fees bywoon nie, het sy per e-pos laat weet.

Sink movie

Ses kortfilms uit Suid-Afrika sal ook by die Cannes Court Métrage (die kortfilm-afdeling) gewys word: Hamba Kahle, Scribblings, Into Us and Ours, Konneksies, Umva en Precious Gift. Sekerlik die grootste Suid-Afrikaanse projek vanjaar is ’n reeks kortfilms wat plaaslik geskiet is – vier Suid-Afrikaanse regisseurs en vervaardigers het saamgewerk – en dit is befonds deur onder meer die NFVF en die KZN Filmkommissie. Dié rolprente is The Beast (regie deur Samantha Nell), Gallo Rojo (regie deur Zamo Mkhwanazi), Paraya (regie: Sheetal Magan) en Lokoza (regie: Zee Ntuli.)

“Die rolprentfees skep ’n belangrike platform vir die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf om te spog met nuwe talent. Rolprentfeeste soos dié help ons ook om altyd te streef na hoër standaarde en om ons land se rolprentbedryf sigbaar te hou,’’ reken Thandeka Zwana, bestuurder van produksie en ontwikkeling – fiksie van die NFVF.

Tog sê rolprentkritikus Leon van Nierop: “Ek dink nie dat die insluiting van ’n rolprent by Cannes ʼn Suid-Afrikaanse prent veel sal help nie. Die uitsondering is Skoonheid, wat met Franse geld gemaak is en wat twee jaar gelede die Queer Palm-toekenning gewen het, maar die rolprent het nie eintlik geld gemaak nie.’’

Bekendes op die rooi tapyt

Die rooi tapyt is een van die hoogtepunte by Cannes.

Blake Lively en Ryan Reynolds FOTO: Getty Images for L'Oréal Paris

Blake Lively en Ryan Reynolds
FOTO Getty Images for L’Oréal Paris

FOTO: Getty Images for L'Oréal Paris

Zoe Saldana FOTO Getty Images for L’Oréal Paris

 

Sakevrou en aktrise Annie Malan, ’n handelsmerk-ambassadeur vir Hewlett Packard, is die afgelope vier jaar onder meer deur dié maatskappy betrek by die fees. Dit is een van die hoogtepunte op haar sosiale kalender.

“Daar is soveel netwerk-moontlikhede. Ek het al die lekkerste persoonlike ontmoetings met groot rolprentvervaardigers gehad. Daar is meesterklasse in toneelspel wat deur onder andere Sophia Loren aangebied word en duisende uitstallings en filmproduksies van die wêreld oor wat jou prikkel en stimuleer.’’

Sy sonder ’n paar mense uit in wie sy al daar vasgeloop het: Suid-Afrikaanse rolprentvervaardiger Anant Singh, die Suid-Afrikaanse biljoenêrspaar Patrice en Precious Motsepe, en Donnalee Roberts en Ivan Botha van Vir Altyd-faam. “As Suid-Afrikaners mekaar raakloop, maak jy gou tyd vir koffie,’’ sê sy.

Annie geniet dit ook om die mense agter die glansbeeld te leer ken. “Ek was al by etes van die ster Sylvester Stallone waar sy rolprente bekend gestel is en verwonder my altyd aan Paris Hilton – sy het die heel meeste lyfwagte van almal.’’

Die groot jaarlikse hoogtepunt vir Annie is die American Foundation for Aids Research (AMFAR) se geleentheid by die Hotel du Cap-Eden-Roc, Cap d’Antibes: “Dié hotel was een van Napoleon se kastele en dit is óp die see. Die see van aandrokke dáár is net ongelooflik. Ek het nie naastenby die begroting om by te hou nie. Ek probeer maar net netjies lyk …,’’ lag sy. Kaartjies kos sowat 15 000 dollar (R229 533) per persoon. “Ek betaal gelukkig nie daarvoor nie … want ek is uitgenooi deur een van die hoofborge van die rolprentfees.”

Danksy haar betrokkenheid by AMFAR, wat jaarliks deur die sakeman Harvey Weinstein en aktrise Sharon Stone aangebied word, is sy al deur die Amerikaanse glansvrou en burlesk-ster Dita von Teese genooi na ’n private rolprentvertoning. “Dit is gehou ten bate van liefdadigheid. Dáár het ek die aktrise Goldie Hawn ontmoet en ons het lekker gepraat oor haar liefdadigheidsprojekte. Sharon Stone is baie vriendelik en poseer graag vir foto’s.’’ By dié geleentheid was onder andere Antonia Banderas, Justin Bieber, Jake Gyllenhaal en Isabella Rossellini.

Miskien sien ons eendag een van Annie se flieks by Cannes: “Ek werk al twee jaar lank aan die ontwikkeling van ’n storie oor die Boere-oorlog. Dit gaan oor ’n meisie wat met die mans baklei het – The Lady Who Fought. Die draaiboek is by ’n Amerikaanse vervaardiger wat ek by Cannes leer ken het …’’

Ps: “Kyk, álles by Cannes is ongelooflik … Of dit nou ’n koffie is met ’n spesiale sjokolade, die wonderlike kos, of iets wat mooi voorgesit word. Die lekkerste is hoe mense van die oor wêreld na mekaar uitreik, mekaar probeer help. Ek kan nie wag om op die vliegtuig te klim vir vanjaar se fees nie,’’ sê Annie.

20160429_VGB Tag