red my lips
Het jy gehoor?

Sit rooi lipstiffie aan vir ’n goeie doel

Vir sommige van ons is rooi lipstiffie tweede natuur en vir ander is dit weer heeltemal gewaagd, of dalk net vir ’n spesiale geleentheid. Red My Lips, ’n nie-winsgewende organisasie, daag vroue uit om in April hul lippe rooi te verf om mense bewus te maak van seksuele geweld teen vroue.

Die veldtog se fokus val op die werklikhede van verkragting, soos die mites daar rondom en slagoffer wat dikwels die blaam kry. Dit is byna soos die Movember-veldtog wat jaarliks in November plaasvind waar mans hul snor laat groei om bewusmaking van prostaatkanker te skep.

Die doelwit is om mense in te lig en te inspireer om hul stemme dik te maak vir ware verandering in terme van seksuele misdrywe.

Die idee is dat die ondersteuners van Red My Lips, wat ook Warriors genoem word, elke dag in April rooi lipstiffie moet dra en sodoende blootstelling aan die veldtog gee.

Waarom rooi lipstiffie? Verkragtingslagoffers word gereeld blameer dat hulle uitlokkend aantrek en só die verkragter aanleiding gee. Daarmee saam word die slagoffers verneder en verkies baie van hulle om eerder te swyg. Red My Lips wil hierdie stigma afbreek deur juis rooi lippe wat sexy en uitlokkend kan wees as wapen te gebruik om dié en soortgelyke mites af te breek.

In die afgelope twee jaar is miljoene mense bereik deur hierdie veldtog in meer as 100 lande. “Ons het die mooiste stories van omgee, hoop en oorweldigende ondersteuning en krag van baie vroue gehoor en gesien,” vertel die Red My Lips-span op hul webwerf.

Die SARIE-span het almal rooi lipstiffie aangesit om ons ondersteuning aan hierdie spesiale veltog te wys.

SARIE redmylips R

Raak betrokke

 Vir meer inligitng besoek www.redmylips.org