FOTO: Instagram/ @janhendrik2016

FOTO: Instagram/ @janhendrik2016

Het jy gehoor?

Sjef Jan Hendrik van der Westhuizen skitter

Michelin-ster-sjef Jan Hendrik van der Westhuizen kan in twee woorde opgesom word: gasvry en toeganklik. In ’n tyd dat Suid-Afrika inspirasie broodnodig het, is Jan Hendrik ’n blink ster wat alle Suid-Afrikaners trots maak. Sy wortels is diep geanker in ons land en in sy kookkuns bevorder hy bestanddele wat eg Suid-Afrikaans is, soos biltong, suurvye, maroela en plaaslike wyne.

Jan-Hendrik teken sy boeke. FOTO: Phyllis Green

Jan Hendrik teken boeke.
FOTO: Phyllis Green

Op 1 Februarie vanjaar het dié eienaar van die restaurant JAN in Nice, Frankryk, sy eerste Michelin-ster ontvang. Hy is die eerste Suid-Afrikaanse restaurant-eienaar wat dié prys ontvang het.

Phyllis Green, SARIE se boekeredakteur, het Dinsdagaand geregte geëet wat deur Jan Hendrik voorgesit is. Die geleentheid was ’n eksklusiewe ete by die Aurelia’s Restaurant by Emperors Palace in Johannesburg.

“Die kos is prentjiemooi op die bord. Die aandag wat aan klein detail gegee word, rond elke gereg af. Die smake was hemels. Wat ek vir die res van my lewe sal onthou, is die mosbolletjies wat voorgesit word met miso-botter. Maar dan was daar ook die fantastiese nagereg van blomkool, Amarula, witsjokolade, klapper, malvapoeding en heuningkoek. As jy gedink het blomkool is ’n groentebygereg, dink weer! Eintlik wil ek nou net Nice toe gaan om by ons Michelin-ster-sjef se restaurant, JAN, daar te gaan eet. Hy is ons beste Afrikaanse uitvoerproduk en maak my ongelooflik trots,” vertel sy.

Jan Hendrik het die afgelope paar weke Suid-Afrika besoek om sy nuutse boek, Jan – My Franse kosverhaal, bekend te stel.

5 dinge wat jy van Jan Hendrik móét weet

1) Hy het grootgeword op ’n familieplaas in Mpumalanga. Die kombuis en tuin was sy speelplek.

2) Jan Hendrik is nie net ’n sjef nie, maar ook ’n fotograaf, stilis, kreatiewe konsultant en skrywer.

3) Sy restaurant, JAN, in Nice, het net plek vir 28 gaste. Hy is self agter die potte en aan die einde van die aand maak hy ’n draai by elke tafel om sy Frans te oefen.

4) Elke gas kry beskuit as hulle huis toe gaan, met instruksies hoe om dit te eet.

5) As niemand kyk nie, eet hy dik snye vars bruinbrood met baie botter, grondboontjiebotter en enige rooi konfyt.

Lees nou