sr1112hoofmode_70_
Het jy gehoor?

So gaan Nataniël Kersfees hou

Kersfees is al van kleintyd Nataniël se beste tyd van die jaar, want dis wanneer die familie bymekaargekom het by sy ouma-hulle se huis op Wellington. Dán het hy so lekker konsert gehou.
“Ek was sommer Maria, Josef én Jesus!” erken hy prontuit.

Deesdae kom die familie een jaar 
in die Kaap en die volgende jaar in Pretoria byeen. Vanjaar vier hulle Oukersaand by die Overture-restaurant buite Stellenbosch (die restaurant maak nét vir hulle oop!). Die geselskap bestaan uit: Nataniël, sy beste vriendin, Charlene Beukes, sy ouers, Marie en Eben le Roux van Kuilsrivier, sy laatlam-sussie, Madri, haar man, Aleit Swanepoel van Stellenbosch en hul 2½-jarige aangenome dogtertjie, Kateline.

En dan is daar sy broer Erik met sy vrou, Nathalie, en hul dogtertjie, Luccia (2), van Nantes in Frankryk. Aleit se ma, Cliffie, sal ook daar wees. Nataniël se oudste broer, Ian, en sy vrou, Hanlie, en hul seuntjie, Jacques (3½), van Dublin, Ierland, kuier nie vanjaar saam nie.

“Soos jy kan sien, is Kersfees ’n jaarlikse familie-reünie,” sê Madri. “Ons is só besig gedurende die jaar. Maar dán maak ons pakkies oop, lag, eet lekker en ons bedérf net.”

Vanjaar is hul kleure silwer en wit. Aleit, ’n meester-versierder wat wéét hoe om met emosies te toor gaan sorg dat die tafels by Overture sprankel.

Nataniël vertel by sy huis is daar ’n ekstra kamer vol linne, kristalle en Krismisgoed.

“Dís hoe belangrik dit vir ons is 
dat dit mooi lyk. Ons het by my ouma geleer dat jy spesiale oomblikke in jou lewe moet hê. Jy moet élke dag geniet. Moenie net die mooi eetgerei en borde bêre vir spesiale geleenthede nie.”

Maar veral met Kersfees moet jy gróót dink, glo hy.

“Ons steur ons nie aan wat 
ander mense doen nie. Ons skep 
ons eie planeet.”

  • Magriet Meiring

    Pragtige fotos en soooo bitterlik smaakvol!!!! Dankie aan 2 sulke mooi mense en die Sarie-kunstenaars-span, dit verg sulke innoverende denke om vir ons ‘n mooi boek te laat kry.