madbabaleet
Het jy gehoor?

Só word daar eer aan Madiba gebring

Met Madiba in die hospitaal en sy 95ste verjaarsdag wat môre (18 Julie) gevier word, is Madiba en sy nalentenskap meer as ooit in ons gedagtes. Hy word op verskillende maniere geëer. Hierdie is die eerbetone wat óns inspireer:

Ballet

Die talentvolle en gravitasie-ontwykende St. Petersburg-balletgeselskap het hul debuut-optrede van die bekende Swan Lake in die Teatro in Montecasino aan Madiba opgedra (foto bo).

Die stigter van dié geselskap, Konstantin Tachkin, het gesê die vertoning word aan “die vader van Suid-Afrika se demokrasie” opgedra. Volgens hom is dit altyd vir dié geselskap ‘n eer om in Suid-Afrika op te tree. Swan Lake word nog tot 27 Julie opgevoer.

Elvis Blue en Coenie

Elvis Blue en Coenie de Villiers het ‘n paar jaar gelede ‘n spesiale weergawe van die oorspronklike Nkosi Sikelel’ iAfrika opgeneem. Vanaand op Kwêla op kykNET (DStv-kanaal 144), op die vooraand van Madiba se verjaardag, dra hulle dié lied spesiaal aan hom op. Dit is ook die heel eerste keer dat Coenie, wat die program aanbied, self in die Kwêla-ateljee sing. Voorheen het hy net ander musikante begelei.

Coenie de Villiers

Atlete

Sondag (14 Julie) het plaaslike sterre en voetbalsterre saam met deelnemers aan die Spesiale Olimpiese Spele ‘n sokkerwedstryd gespeel. Die bekende Britse sokkerklub Manchester City het ook deelgeneem. Dié wedstryd was om meer bewustheid om Mandela-dag (18 Julie) te kweek waar mense gevra word om 67 minute van hul dag vir ‘n goeie doel af te staan. Hulle wou ook wys dat enige teëspoed oorkom kan word.

Sport

Suid-Afrika se sokker- en rugbyspanne sal op dieselfde dag en op dieselfde veld ter ere van Madiba speel. Bafana Bafana speel teen Burkina Faso en die Springbokke kom teen Argentinië te staan.

Die wedstryde vind op 17 Augustus in die FNB-stadion (die voormalige Soccer City) in Soweto plaas. Daar sal ook ‘n musiekkonsert wees.