Somer Son poster 1
Het jy gehoor?

Somer Son – die eerste ‘groen’ fliek in Afrikaans

Somer Son is ’n splinternuwe Afrikaanse fliek wat 8 Mei in teaters begin draai, met Bok van Blerk, Hanna Grobler, Juanita de Villiers en Reynard Slabbert in die rolverdeling.

Clinton, ’n bekende fotograaf wat gereeld voorblaaie vir SARIE skiet, en ook vir Nataniël afneem vir sy rubriek in die tydskrif, is die kreatiewe brein agter dié fliek. Hy is ’n medeskrywer én die regisseur van die fliek.

Somer Son vertel die verhaal van ’n paartjie wat ná vyf jaar van getroude lewe in Mosambiek gaan vakansie hou om hul liefde te herontdek. Langs die pad ondervind hulle egter die een problem na die ander, en boonop speel die weer nie saam nie. Hulle eindig dan gestrand in die vreemde. Hier ontmoet hulle nog ’n paartjie en saam soek hulle hulp. Maar niks kon hulle voorberei op die avontuur wat wag nie …

Wat Somer Son nog meer besonders maak, is die feit dat dit so omgewingsvriendelik as moontlik geskiet is met die hulp van GroenfilmSA. Sonkrag is ingespan vir die verfilming en heelwat navorsing is gedoen oor groen-energie-oplossings wat gebruik kon word tydens die produksieproses. Daar is byvoorbeeld slegs op gasstowe gekook, en waar moontlik is glas pleks van plastiek gebruik. Selfs die swembroeke in die fliek is van herwinbare materiaal gemaak en deur Ripcurl voorsien! Ander borge wat bygedra het om die fliek so groen as moontlik te maak is Action Ford wat voertuie uit hul Eco Boost-reeks beskikbaar gestel het, en Paul Mitchel wat omgewingsvriendelike haarsorgprodukte verskaf het.

So, hoewel Somer Son geen skadelike voetspore agtergelaat het in die natuurprag van Mosambiek nie, kan kykers maar weet dat dié fliek diep voetspore gaan trap in die hart van elkeen wat al ooit verlief was.

Hier is ’n kykie agter-die-skerms: