FOTO: Willem Botha
STILERING: Fanie Cronjé

FOTO: Willem Botha STILERING: Fanie Cronjé

Het jy gehoor?

Sorina Erasmus is weer swanger

Die Afrikaanse sangeres Sorina Erasmus het in haar nuutste musiekvideo bekend gemaak dat sy en haar man, Braam, hul tweede kind verwag.

Die liedjie se naam is “Hoofletters” en handel daaroor om in oorgawe lief te hê. Aan die einde van die video sit Sorina met ’n sonar-foto in haar hand en klein Braambossie, die paartjie se eersteling, maak ook sy verskyning.

Braam, wat ook Sorina se agent is, het aan SARIE.com gesê hulle is baie opgewonde. “Ons het nie eintlik beplan om die nuus in die musiekvideo aan te kondig nie, maar toe ons dit skiet, het dinge net in plek geval en dit het perfek uitgewerk. Die liedjie gaan oor liefde en daar is nie groter liefde in jou hart as wanneer jy die nuus kry dat ’n baba op pad is nie.”

Sorina is nou amper 4 maande swanger en hulle weet nog nie wat die geslag van die nuwe baba is nie.

Braambossie word in April twee en sy nuwe boetie of sussie sal in Maart gebore word. “Ons probeer hom so goed as moontlik voorberei op die nuwe toevoeging tot die familie,” vertel Braam. “Ons het vir hom ’n Yorkshire-terriër, Appelliefie, gekoop sodat hy kan leer om saggies te wees en sodat hy kan besef hy is nie die enigste een wat aandag kry nie. Hy noem haar Appa.”

“Die afgelope 4 maande van swangerskap was n groot seën want ek en uiteraard ons klein mensie-in-wording was elke oomblik omring met musiek. Ons het my nuwe album HOOFLETTERS – wat einde Oktober vrygestel word – gefinaliseer en ook die musiekvideo twee weke gelede geskiet, so hierdie klein mensie in my het elke dag die titelsnit van die album HOOFLETTERS gehoor en saam met my gesing en gedans oor die wonderlike ware woorde wat in die liedjie geskryf staan, naamlik: ‘EK HET JOU LIEF IN HOOFLETTERS!’ Dis asof die liedjie op ons liefde vir mekaar, vir Braambossie én vir die nuweling in ons gesinnetjie geskryf is!”

Baie geluk, Sorina en Braam! Ons is baie opgewonde saam met julle!

Lees ook