Het jy gehoor?

Spekulasie oor Beckham-baba se naam

Hul eerste dogter kan nou enige dag haar opwagting maak, en vandag, 4 Julie, is ‘n spesiale dag vir die Beckham’s, dit is hul 12de huweliksherdenking.

Victoria het op haar twitterblad geskryf dat David baie opgewonde is oor hul dogter. “David laai musiek af vir ons baba. Rock-musiek wat verwerk word om slaaptyd-liedjies vir kinders te wees. Die Beatles-weergawe is baie goed!”

Die feit dat sy die Beatles genoem het in haar twiet, het spekulasie laat ontstaan dat die baba se naam moontlik Jude kan wees – na aanleiding van die Beatles-treffer “Hey Jude”, berig winnipegfreepress.com.

Brooklyn (12), hul oudste seun, is mal oor die Beatles en hy het dié naam blykbaar voorgestel. Ons hoop hulle oorweeg eerder sy voorstel as dié van sy broer Romeo (9), wat graag sy sussie Justine Bieber Beckham wil noem.

David kan nie meer wag vir die babatjie om haar opwagting te maak nie. Hy het aan Hollywoodscoop.com vertel dat alles glad verloop het met Victoria se swangerskap. “Sy was nooit siek nie en het nie vreemde kosse geëet nie. Die babakamer is gereed en die seuns sien baie uit om hul sussie te ontmoet. Dit is vir ons almal ‘n baie opwindende tyd.”

Musiek is vir die Beckhams baie belangrik en hulle wil hul kinders soveel as moontlik blootstel aan goeie musiek.