FOTO Francois Visser

FOTO Francois Visser

Het jy gehoor?

Sperdatums shmerdatums! Só hou jy daarby

Sperdatums is niks anders as ’n kopspeletjie nie. Oorwin die taak in jou kop, en handel dit vinniger af as wat jy gedink het.

Ons deel op Wêreld-produktiwiteitsdag 5 wenke wat jou kan help om beheer te neem, jou uitsteller.

Jy ken paniek … die gevoel wat jy ervaar sodra jy besef as jy nou begin werk, is jy reeds te laat. As jy dié scenario wil vermy, volg ons 5 wenke …

1. Hou op multitask

Die belangrikste ding wat jy moet weet volgens Refinery29: Niémand is goed daarin om meer as een ding op ’n slag doen nie. Ons weet jy het baie hooi op jou vurk, maar het jy al ooit iets betyds voltooi as jy nie net gaan sit het en nét daarop gefokus het nie? Die e-posse gaan altyd inkom en jou kollegas gaan altyd vir jou nóg werk gee.

As jy weet jy het iets om te doen, vra dat elkeen wat vir jou werk gee ’n sperdatum aandui sodat jy kan prioritiseer. ’n Goeie wenk is om jou doen-lysie volgens spertye op te stel, dan deel jy ’n lang lys in verteerbare dele op – en voel minder oorweldig.

FOTO: Unsplash (William Iven)

FOTO: Unsplash (William Iven)

2. Skakel af

As jy hou van uitstel, weet jy hoe vinnig jou brein op iets anders as jou werk kan fokus. Besigheidskonsultant Anne Grady sê elke onderbreking mors 10 – 15 minute.

Dit beteken elke onderbreking soos om op ’n webtuiste te loer of op jou selfoon te speel en daarna weer op jou taak te konsentreer, kos jou sowat 15 minute!

Sit jou selfoon weg, maak alle webtuistes toe en oorweeg selfs om jou e-posse af te skakel.

#9tot5: Hier’s jou middel-van-die-jaar-motivering!

3. Moeilikste eerste

Jy het dit al gehoor en ons sê dit weer, want dit wérk – doen jou moeilikste/aakligste taak eerste. Hoe meer jy uitstel, hoe groter word die taak in jou kop. Die sommetjie werk so:

Maak jou moeilikste taak vroeg in die dag klaar = iets groot is van jou lysie af + jy is meer gemotiveerd om iets anders aan te pak.

4. Praat daaroor

Vertel jou man, huismaat of kollega van alles wat jy moet doen of van die taak wat jy bly uitstel. As jy dit hardop sê, hou ’n ekstra persoon jou verantwoordbaar. Dink net hoe sleg dit gaan wees om vir daardie persoon te sê jy het dit nie afgehandel nie – jou verskonings gaan opraak!

FOTO: Unsplash (Leonardo Wong)

FOTO: Unsplash (Leonardo Wong)

5. Koop jouself om

Daar is ’n goeie rede waarom jou ouers vir jou gesê het jy kan eers televisie kyk ná jou huiswerk gedoen is: want dit werk. Volg dié tegniek ook met jouself! As jy iets betyds inhandig, koop vir jouself ’n bos blomme, eet iets soet of vat ’n breuk.

Maar, onthou ook om jou tyd te “mors” 

Tim Urban was vroeër vanjaar ’n gasspreker by een van TED se konferensies. Hy verduidelik wat die verskil tussen uitstellers en ‘nie-uitstellers’ is en ook hoe jy jou tyd beter kan “mors”.

(Maar kyk hierdie video natuurlik eers ná jy jou sperdatum gehaal het!)

Lees nou