spice-girls
Het jy gehoor?

Spice Girls-reünie!

Almal wat in die 1990’s saamgesing het met “Spice Up Your Life”, sal opgewonde wees om te hoor dat Mel B, aka Scary Spice, gesê het dat die Spice Girls dalk weer in 2016 ’n reünie kan hê.

Volgende jaar is die 20ste herdenking van die ontstaan van dié gewilde popgroep.

Hulle het sedert hulle in 2000 ontbind het by ’n handvol geleenthede weer saam gesing. Een daarvan was tydens die Londense Olimpiese Spele in 2012.

Bang Showbiz berig dat Mel B sê daar is nog geen vaste planne nie, maar dat hulle daaroor praat.

Waar is die Spice Girls nou?

Victoria Beckham (Posh Spice)

Sy woon nou in Los Angeles saam met haar man, die sokkerlegende David Beckham, en hul vier kinders Brooklyn (16), Romeo (12), Cruz (10) en Harper (3).

Sy is veral bekend as klereontwerper met eksklusiewe boetieks die wêreld oor.

Mel B (Scary Spice)

Mel B woon ook in Los Angeles saam met haar man, Stephen Belafonte, hul dogter, Madison (3), en haar kinders uit vorige verhoudings, Phoenix (16) en Angel (9).

Sy is op TV te sien as een van die mentors in die realiteitsreeks The Voice Kids.

Geri Halliwell (Ginger Spice)

Geri het in November 2014 verloof geraak aan die F1-jaer Christian Horner van die Infiniti Red Bull-span. Sy het ’n dogter, Bluebell (8), van wie Victoria Beckham en Emma Bunton die peetma’s is.

Emma Bunton (Baby Spice)

Emma is deesdae ’n radio-omroeper in London, waar sy saam met haar langtermyn-kêrel, Jade Jones, woon. Die paartjie is al vanaf 1998 saam. Hulle het twee kinders, Beau (7) en Tate (3).

Mel C (Sporty Spice)

Sy woon in Catbrook, Wallis, saam met Thomas Starr, met wie sy al sedert 2009 in ’n verhouding is. Hul dogter, Scarlet, is ses jaar oud. Mel C is tans een van die beoordelaars van Asia’s Got Talent en het verskeie liefdadigheidsprojekte.