Foto Instagram/@bostonmagazine

Het jy gehoor?

Baanbreker steeds vol woema ná 50 jaar!

In vroeër jare is slegs mans toegelaat om aan die Boston-marathon deel te neem – omdat vroue glo te “swak” is.

Toe ene K.V. Switzer in 1967 vir die wedloop van 26,2 myl (sowat 42 km) inskryf, het niemand onraad vermoed nie – totdat die 20-jarige Kathrine Switzer opdaag. Sy het daardie dag 50 jaar gelede die eerste vrou geword wat die wedloop, wat slegs oop was vir mans, amptelik voltooi het.

Dit was reeds genoeg om haar naam in die geskiedenisboeke te kry, maar toe ’n baanbeampte haar boonop van koers probeer dwing, het dit nog groter opspraak gewek. Gelukkig was haar kêrel agter haar en kon hy die ontstoke beampte se aanslag afweer.

“Ek het hard geoefen en vertroue in my vermoëns gehad,” het Kathrine die beswaar dat vroue te swak is, afgemaak. Sy het die wedloop destyds in 4 uur en 20 minute voltooi; met ’n tyd van 4:44:31 het dit haar vanjaar op 70-jarige ouderdom effens langer geneem.

Vyf jaar ná Kathrine se eerste opspraakwekkende deelname is vroue uiteindelik toegelaat om aan die marathon deel te neem.

Kathrine het ook nie sedertdien gras onder haar voete laat groei nie. Sy het al aan meer as 30 marathons deelgeneem en was onder meer in 1974 die vrouewenner van die New York-marathon met ’n tyd van 3:07:29. Sy het as TV-aanbieder gewerk en is ook die stigter van 261 Fearless, ’n drafklub vir vroue. Dié nommer – 261 – is die een waarmee sy in 1967 deelgeneem het, en was ook by vanjaar se marathon haar nommer. As eerbewys is sy ook toegelaat om die beginskoot vir die vrouewedloop af te vuur.

Kathrine beplan ook om aan vanjaar se New York-marathon deel te neem. Oor haar baanbrekerswerk het sy aan die New York Times gesê: “Ons weet nou dat vroue nie hoef terug te staan wanneer dit by uithouvermoë en stamina kom nie …”

Inderdaad.

Bron: The New York Times