at_luckylucy
Het jy gehoor?

Sterte swaai toe die African Tails Pedigree 2011-kalender bekendgestel is – VIDEO

Optelhonde of “rescues” is besig om sterstatus te kry – mense sal eerder ‘n hond met ‘n hartseer verlede ‘n tweede kans gee as wat opregte honde ten duurste aangekoop word. Dit is dan ook die baie belangrike boodskap wat African Tails, – die nie-winsgewende organisasie wat honde kosgee, steriliseer en red in die Du Noon-, Joe Slovo-, en Vissershokplakkerskampe - verkondig by die jaarlikse vrystelling van hul African Tail-kalender.

Dis ook ‘n projek wat ‘sterre’ in hul verskillende bedrywe betrokke kry – voormalige supermodel en nou bekende fotograaf, Josie Borain, het weer die foto’s geneem en ontwerp-ghoeroe, Crispian Brown, van New Media Publishing het vir die ontwerp van die kalender gesorg. Pedigree was vir die derde jaar in ‘n ry weer die borg en is die dryfkrag agter die landwye aannemingsveldtog.

Dié jaar is die funksie by Wembley Square in Kaapstad gehou en SARIE se fotoredakteur en groot hondeliefhebber, Odette Howell, was daar.

Hoewel die viervoetige vriende die groot aantrekkingskrag was, was daar ook heerlike vermaak, ‘n veiling, honde-juweliersware en lekker happies op die ‘spyskaart’. Die groot doel van die aand was om geld in te samel vir African Tails se werk en aan die einde van die geleentheid is altesaam R45 200 ingesamel.

Het jy geweet?

Een wyfiehond en haar werpsel kan binne 6 jaar 67 000 honde voortbring, en elke jaar word duisende mooi, gesonde honde uitgesit – genoeg om ‘n mens te laat besef hoe belangrik sterilisasie is.

Indien jy daaraan dink om ‘n troeteldier aan te skaf, kontak gerus ‘n reddingsorganisasie en gee ‘n hond ‘n tweede kans.Jy sal verbaas wees hoeveel opreg-geteelde honde eindig ook in shelters op. Dan is daar natuurlik ook ‘n inheemse Suid-Afrikaanse spesie, die Canis Africanus of basterbrak, wat die wonderlikste geaardhede het.

Deur ook elke dag op Barking Mad (‘n ‘hondedorp’ in Midrand) se webtuiste te klik, sal jy kan help deur ‘n bak hondekos te borg.  

Kalenders is beskikbaar by www.africantails.co.za, Wordsworth Boeke, uitgesoekte Citivets-takke en Wembley Square.

Sarie.com was by die bekendstelling – Kyk die video