Steve Hofmeyr
Het jy gehoor?

Steve Hofmeyr terug by sy eerste liefde

Die Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr stel vandag sy 28ste album, If You Could Read My Mind, bekend. 

Met dié album keer Steve terug na sy eerste liefde, die country-genre. Dit is nie sy eerste album in dié genre nie. In 2008 het Help Me Through the Night die lig gesien, waarop hy hulde bring aan die country-legende Kris Kristofferson.

Steve Hofmeyr - If You Could Read My Mind Album 2015

Die nuwe album bestaan uit 15 liedjies, waaronder ’n verwerking van die liedjie “Teach Your Children” wat Steve saam met die gewilde Coleske-broers, Ewald en Arnold, opgeneem het.

Ander bekende treffers waarna aanhangers kan uitsien, is Steve se weergawes van The Eagles se “Heartache Tonight”, Creedence Clearwater Revival se treffer “Have You Ever Seen The Rain”, “Photograph” deur Ringo Starr en “Hey Mr. Dream-Maker” deur Cliff Richard.

Die bekroonde Juan “Floors” Oosthuizen het die album opgeneem en vervaardig.

“Niemand kan die sjarme van country weerstaan nie en baie min mense bly onaangeraak deur country se houvas op ons mees sentimentele instinkte,” sê Steve oor If You Could Read My Mind.

If You Could Read My Mind is van vandag, 6 November 2015, af in die winkels beskikbaar.

Lees ook