FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Het jy gehoor?

Suid-Afrika ’n Grammy én Bafta ryker!

Suid-Afrika is ná die afgelope Sondag nie een nie, maar twee gesogte internasionale pryse ryker! Die Suid-Afrikaanse dwarsfluitspeler Wouter Kellerman en oud-Kapenaar en rolprentvervaardiger Eric Abraham het onderskeidelik ’n Grammy en Bafta “huis toe” gebring. 

Wouter se Winds of Samsara is in die kategorie Beste New Age-album met ’n Grammy vereer. Die Indiese komponis en vervaardiger Ricky Kej, wat saam met dié dwarsfluitspeler aan die album gewerk het, het ook erkenning by die spoggeleentheid in Los Angeles gekry.

Winds Of Samsara was 11 weke in die top-10 van die Billboard New Age-verkoopslys.

Hy het in 2010 by die sluitingseremonie van die FIFA Wêreldbeker-sokkertoernooi voor ’n televisiegehoor van 700 miljoen mense opgetree. Die jaar daarna, in 2011, het hy ’n SAMA (South African Music Award) vir sy album Two Voices gewen.

Wouter het sy opgewondenheid oor sy Grammy gedeel: “Wow, dit is ’n lewenslange droom wat waar geword het. Ek sien uit daarna om soveel meer te doen.”

Ons is ook trots op Eric Abraham

In Londen het ’n film wat deur Eric vervaardig is Sondagaand ’n Bafta, oftewel British Academy Film Award, vir Beste Buitelandse Rolprent gewen. Ida, ’n Poolse rolprent, gaan oor ’n vrou wat as non opgelei word. Dié fliek is ook vir ’n Oscar benoem in die afdeling Beste Buitelandse Rolprent, berig Netwerk24.