Christia Visser

FOTO Leana Clunies-Ross

Het jy gehoor?

Suid-Afrika se jong talent

Daar’s ’n ontploffing in die SA rolprent- en teaterbedryf – met ’n hele klomp veelsydige jong mense wat woeker met hul talente en groot naam maak. 

Vanaf 6 Mei kan ons die jong akteurs Deanre Reiners en Tanika Fourie in die nuwe Afrikaanse rolprent Mignon Mossie van Wyk sien. Dit is Tanika se eerste verskyning op die silwerskerm, maar Deanre is geen vreemdeling voor die kamera of op die verhoog nie. Die sanger Steve Hofmeyr se seun, Devon, speel ook in die fliek.

Deandre Reiners En Tanika Fourie

FOTO: SARIE.com-span

Deanre het in 2013 sy debuut as Emil in Binnelanders gemaak, en vertel hy voel al van die ouderdom van vier jaar oud tuis op die verhoog. “Ek was vier toe ek op die verhoog by my kleuterskool gestaan het vir die eisteddfod. Ek het toe al geweet ek wil daar wees vir die res van my lewe,” skerts hy.

Die laaste drie jaar was hy ook baie bedrywig met die skiet van films soos Verskietende Ster en Seun. Albei rolle wat hy vertolk het, was baie dramaties, en hy meen dit was soms moeilik om die karakters aan die einde van die dag af te skud. “Met elke rol wat jy kry, sit jy iets van jouself,” verduidelik hy.

Kyk die lokprent van Verskietende Ster wat op 22 April landwyd in fliekteaters begin wys hier

Nog talent wat jy móét dophou

In SARIE se Januarie 2016-uitgawe het ons ’n paar van die jong akteurs wat woeker met hul talent gewys. Hier’s van die akteurs wat dopgehou moet word.

Christia Visser

Christia Visser

Die afgelope paar weke het ons vir Christia in die kykNET-reeks Die Boekklub gesien. Dié beeldskone aktrise vertel sy het altyd geweet sy gaan toneel speel. Akteurswerk was haar Plan A … en Plan B in die lewe. Danksy verwysings van haar lektore het sy reeds as student ’n agent gehad, wat vir haar die hoofrol, Andrea, in The Girl Child (haar eerste betaalde rol) op die verhoog aangebied het.

Volgens haar kom toneelspel vir haar natuurlik. Sy glo nie daaraan om die draaiboek woord vir woord te leer nie. “Baie mense vra my hoe kry ek alles in my kop. Ek weet nie lekker hoe dit werk nie, maar glo as ek ’n draaiboek genoeg kere gelees het en my karakter verstaan, kom die woorde vanself. Dit is net daar. Ek glo ook nie aan óórvoorbereiding nie. Hoe meer jy analiseer, hoe meer wil jy dinge regmaak wat nie gebreek is nie. Ek probeer myself dus kry in daardie ‘spasie’ tussen instink en oordink,” sê sy.

Sou sy ná haar plaaslike sukses ’n loopbaan in Hollywood oorweeg? “Ek weet nie of ek al volwasse genoeg is om met Hollywood se kritiek te deal nie, maar dit moet ongelooflik wees om aan só ’n ‘buffet’ van flieks blootgestel te word. Ek is nie eintlik into die hele fame-ding nie. Ek is nou op so ’n goeie plek in my lewe.”

Dann-Jacques Mouton

Dj Mouton

FOTO: Binnelanders (Dann-Jacques)

Die BInnelanders-akteur het baie gewaag om akteur te wees, maar hy het die vrugte daarvan gepluk. “Mense sê altyd you don’t choose theatre, theatre chooses you. En ek glo dit. Waar ek vandaan kom, Athlone in die Kaap, was dit ’n groot risiko om só iets te wil doen, maar ek moes net.”

Dann-Jacques is egter bekender in teaterkringe. Hy was verlede jaar in die langverwagte teaterweergawe van Siener in die suburbs by Aardklop, en hy is ook geprys vir sy toneelspel in Die Rolbalspeler.

Hy geniet dit ook om die “vuilwerk” agter die skerms te doen. “Stoele aandra, kostuums regmaak – want dit hou jou nederig. Só leer ek meer van die bedryf, want eendag sal ek ook regie wil doen.”

Shoki Mokgapa

Shoki Mokgapa

Baie ken haar as Tumi van The Lab. Maar hierdie aktrise sal altyd vir haar rol in die plaaslike rolprent Sink onthou word. Haar toneelspel was so goed dat sy met die kykNET Silwerskerm-prys vir beste aktrise weggestap het. En op 8 April is Sink aangewys as beste rolprent by die derde Festival voor het Afrikaans in Amsterdam, Nederland.

Hoewel dit nie altyd maklik was om werk te kry nie, het Shoki deurgedruk om haar droom te bereik. Dit was darem nie alles verniet nie. Shoki is vanjaar in die flieks Bypass, asook The Chemo Club, saam met Brümilda van Rensburg, te sien.

Mignon Mossie van Wyk wys vanaf 6 Mei in fliekteaters landwyd. Kyk die voorskou hier!

Lees nou