Het jy gehoor?

Suid-Afrikaanse liedjieskrywer benoem vir internasionale prys

Die sanger, liedjieskrywer en vervaardiger Johan Vorster, eens deel van die Afrikaanse sanggroep Eden, is die skrywer van Afrikaanse musiektreffers soos ‘De la Rey’ en ‘Jy soen my nie meer nie’, asook  ‘Ons vir jou Suid-Afrika’ wat op die Springbok-toerbus gespeel het tydens die 2007 Wêreldbeker-rugbytoernooi.

Jy kan maar weet: waar hý ’n aandeel in ’n album of musiekvertoning het, volg sukses kort op sy hakke.      

Nou is Johan ’n finalis in die Internasionale Liedjieskryf-kompetisie (ISC) vir sy lied ‘Jericho (These Walls Are Coming Down)’ wat Bobby van Jaarsveld sing. (Luister die lied hier.)

Dié kompetisie word beoordeel deur internasionale grootkoppe soos die sangeres Martina McBride, die sang-duo Tegan and Sara en die grootbaas van Universal Republic Records, Monte Lipman.

Johan se lied is een van ongeveer 20 000 wat ingeskryf is en hy is een van 14 finaliste in sy kategorie. 

Ander Suid-Afrikaners wat benoem is, is onder meer Kahn Morbee van The Parlotones vir die liedjie ‘Honey’ en TeeJay Terblanche vir ‘Golden Hearts’ wat deur Black Handed Kites opgevoer is.

Jy kan vir Johan of jou gunsteling-liedjieskrywer stem deur dié kompetisie se Facebook-blad te besoek.

SARIE TV: Johan het spesiaal vir sarie.com hierdie video gemaak en ons by sy huis ingenooi om eksklusief te wys hoe hy een van Karlien van Jaarsveld se treffers klaarskryf.