FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Het jy gehoor?

Suid-Afrikaner lid van Oscar-paneel

Moonyeenn Lee, legendariese rolverdeler van Suid-Afrika, is gekies as lid van die Academy of Motion Picture Arts and Sciences, wat beteken sy sal kan stem vir 2017 se Oscar-benoemdes.

Sy is die enigste Suid-Afrikaner onder 683 professionele mense in die rolprentbedryf wat genooi is om lede van die akademie te word. Nog nuwe lede sluit in die akteurs Idris Elba, John Boyega en Michael B. Jordan. Volgens Lee is dit ’n baie groot eer en glo sy dit sou nooit kon gebeur sonder die ongelooflike talent van Suid-Afrikaanse akteurs nie.

Die stap om nuwe lede vir die akademie te kry kom ná die omstredenheid vroeër vanjaar toe daar vir die tweede jaar agtereenvolgens geen benoemings vir akteurs van kleur was nie. Die hutsmerk #OscarsSoWhite wat in 2015 aandag getrek het, het weer die botoon op sosiale media gevoer.

Maar, berig Metro, dit gaan nie net oor etniese diversiteit nie, dit gaan ook oor geslagsdiversiteit en daarom is mense soos die Oscar-wenners Brie Larson en Alicia Vikander, Kate Beckinsale en Emma Watson ook ingesluit. Van die nuwe lede is 46% vroue en 41% mense van kleur. Dit sluit in 28 Oscar-wenners, 98 Oscar-benoemdes en 283 internasionale lede, wat verteenwoordigend is van 59 lande.

Moonyeenn is reeds meer as 43 jaar in die bedryf en is bekend vir haar betrokkenheid by rolprente soos Mandela: Long Walk to Freedom, Life Above All, Hotel Rwanda en Tsotsi. In Suid-Afrika is sy ook vereer met The SA Film and Television Academy Lifetime Achievement Award.

Jy kan hier lees wie almal  nuwe lede op die lys is.