schalk burger
Het jy gehoor?

Schalk Burger wen Oscars van sport + ander SA’ners blink ook uit!

Gisteraand is die Oscars van die sportwêreld in Shanghai, China toegeken. En die Springbok-rugbyspeler Schalk Burger het die prys gewen vir Terugkeer van die Jaar. 

Dit is werklik ’n groot prestasie ná hy van lewensbedreigende breinvliesontsteking herstel het en daarna weer sy internasionale rugbyloopbaan hervat het.

Sy vrou, Michele, en ouers, Schalk snr en Myra, was saam met hom by die geleentheid. Hulle was baie emosioneel toe die oud-Springbokkaptein Morné du Plessis die trofee aan Schalk oorhandig het. Morné is ’n lid van die Laureus Wêreldsport-akademie.

Springbok Jean de Villiers was ook by dié geleentheid en het gesê dat slegs 1% van sportmanne dit suksesvol reggekry het om só ’n comeback te maak ná ’n ernstige siekbed of besering.

Ander Suid-Afrikaners wat ook by dié geleentheid te sien was:

Prinses Charlene van Monaco, wat eens in ons plaaslike Olimpiese-swemspan was, het die grootste prys van die aand oorhandig. Sy het die Laureus Sportman van die Jaar-trofee aan Novak Djokovic oorhandig. Dit is vooraf opgeneem en as ’n video uitgesaai by die geleentheid, omdat Novak self nie daar kon wees nie.

charlene_birthdaylr

Die akteur Benedict Cumberbatch was die gasheer by vanjaar se toekennings. Hy het vir oudpresident Nelson Mandela aangehaal deur te sê dat sport mense werklik byeen kan bring.

Nóg ’n Suid-Afrikaner Thalente Biyela se skaatsplank-talent het ook gesorg dat hy ’n ster op die aand was. Hy was eens ’n straatkind van Durban, maar deesdae is hy een van die wêreld se beste skaatsplankryers en woon nou in Amerika. Hy is deur die skaatsplank-legende Tony Hawk “ontdek” tydens ’n besoek aan Durban. Daar sal hierdie jaar ’n dokumentêr I am Thalente verskyn wat sy roerende verhaal te vertel.

Kyk hoe talentvol is Thalente in dié video waarin hy 10 skaatsplank-truuks wys:

Ons is baie trots op ons Suid-Afrikaanse sportsterre wat hul plek op die internasionale verhoog volstaan!