FOTO:  Donna Lewis

FOTO: Donna Lewis

Het jy gehoor?

Wie is Suidooster se Greta?

Jy kan die aktrise Greta Pietersen in een woord opsom: divers! Greta se Fiësta-toekenning vanjaar vir beste vroulike byspeler is haar eerste “grootmens”-prys. Sy is veelsydig, leergierig en ’n bondel energie. En sy kuier ook in Suid-Afrikaners se sitkamers as die jong getroude Michelle in kykNET se sepie Suidooster.

Vanaand verskyn sy op kykNET se geselsprogram Bravo! (144) om 20:00.

Wanneer het jy besef toneelspeel is jou “ding”?

Kleintyd in Pretoria het ek graag konsert gehou vir my ouers, Elna en Johann. Elke keer, midde-in ’n eksistensiële krisis, besef ek: toneelspel is my waarheid. Nadat ek my honneurs- en meestersgraad in drama in 2010 en 2014 aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, het ek vir kort rukke van toneelspel weggebreek en stel- en kostuumontwerp vir die verhoog gedoen. Maar jy raak op ’n manier verslaaf aan acting.

FOTO: Willem Lourens

FOTO: Willem Lourens

Geniet jy jou rol in Suidooster?

Ek speel saam met ongelooflik talentvolle akteurs soos Denise Newman en Marcel van Heerden, by wie ek baie leer. ’n Sepie verg baie dissipline en tegniek – jy moet daagliks nuwe woorde instudeer, voor drie kameras (tegelykertyd op jou gefokus) toneelspeel. Michelle Gerber is ’n lekker karakter. Sy en haar man, Stefan [Gideon Lombard], trek Kaap toe en moet allerlei relevante volwasse situasies hanteer, soos om ’n huisverband en nuwe motor te kry. Hulle besluit ook oor ’n gesin. Baie van my jong vriende stoei met dié kwessies.

Die beste raad wat jy al gekry het?

My ma sê altyd jy moet jouself nooit te ernstig opneem nie. Dit strem kreatiwiteit op alle vlakke van die lewe.

– Vir die volledige onderhoud kry SARIE se Junie-uitgawe. Nou te koop!

Junie nuwe prys

Suidooster word Maandag tot Woensdag om 18:00 op kykNET en kykNET & kie uitgesaai. Vanaf 7 Julie sal dié sepie vier episodes per week hê.