sr0602dinge02
Het jy gehoor?

Tango nou ‘n wêreldkultuur-erfenis!

Dit gee ‘n internasionale stempel van goedkeuring aan Argentinië en Uruguay vir hul sensuele dans, iets waarvoor hulle al baie lank vra. Na aanleiding hiervan sal hulle moontlik geldelike ondersteuning kry om hierdie tradisie te beskerm.

Pedro Kruger en Jolette Odendaal doen ook ‘n tango in die toneelstuk, Op die Vrou Af 2. Hulle moes lesse hiervoor neem.

Pedro wou in ‘n onlangse onderhoud by haar weet wat die drie basiese beginsels van tango vir dummies is. Jolette se antwoord: “Trek jou maag in, trek jou maag in, trek jou maag in!”

Ons vra vir Jolette:

Hoe moeilik was dit vir jou en Pedro om die tango aan te leer?
Ek en Pedro hou gelukkig albei van dans, so ons was baie opgewonde om te leer tango. Die moeilikste van als was om ‘n mens se postuur reg te kry. Die eerste les het ons net geleer loop!  Dit klink maklik, maar jy kom eers agter as jy in ‘n spieël kyk hoe sleg jou postuur werklik is.

Hoe hard moes julle oefen?
Ons het ‘n hele paar uur ingesit elke dag vir so 3 weke, en na ‘n jaar het ons defnintief nog nie die tango bemeester nie. Jy gebruik spiere wat jy nie gedink het bestaan nie, en die volgende oggend het dit my ‘n rukie gevat om weer regop te kan loop!

Het enige iets snaaks gebeur op of van die verhoog?
Ons het al ‘n paar keer ons balans bietjie verloor, en my skoene het al ‘n paar keer aan my rok vasgehak!  Pedro lig op een plek my been op terwyl ek op ‘n stoel sit, en een aand het die stoel gegly, maar Pedro het soos Rambo my en my been in die lug gehou, en gelukkig het ons nie geval nie! Om die tango te dans is ongelooflik baie pret, en dit is defnintief een van my gunsteling dans style.