Taylor Swift op die voorblad van Vogue Feb 2012-uitgawe

Taylor Swift op die voorblad van Vogue Feb 2012-uitgawe

Het jy gehoor?

Taylor en Kim … en ander bekende vyande

Kim Kardashian en Taylor Swift breek wéér saam die internet. Hulle is al weer aan’t baklei.

Die twee bekende vroue en Kim se man, Kanye West, is al vir ʼn geruime tyd in ʼn hewige onderonsie. Van mekaar slegsê op sosiale media tot openbare woordewisselings en telefoonoproepe waar die een die ander uitkryt.

Taylor is kwaad, want Kanye praat lelik oor haar in sy nuwe liedjie, Famous. En Kim sê Kanye het Taylor se toestemming gehad daarvoor. Kim het teruggekap dat sy bewyse het. Sy het toe wel die video op Snapchat gedeel.

Maar mense wat met mekaar verskil en mekaar nie kan verduur nie, is nou maar deel van menswees. Dis so oud soos die berge. Daar was van die begin af struwelings. Soos dié tussen Kain en Abel, die twee broers in die Bybel se Skeppingsverhaal. Hulle was so kwaad vir mekaar dat die een die ander doodgeslaan het.

Silwerdoeklegendes Bette Davis en Joan Crawford se wedersydse antagonisme is legendaries. En waaroor het dit gegaan? Die liefde van ʼn man! In Amerika maak die TV-netwerk Fox nou ʼn reeks, Feud, met Susan Sarandon in die rol van Bette Davis Davis en Jessica Lange as Joan Crawford.

Bette Davis

 

Susan Sarandon

 

Joan Crawford

 

Jessica Lange

 

Martha Stewart en Gwyneth Paltrow is ook bekende vyande. Blykbaar oor Stewart, een van die wêreld se bekendste leefstyl-ghoeroes, gevoel het dié aktrise se leefstylblog, Goop, is ’n bedreiging. Martha het volgens E! News gesê: “Sy moet net stilbly. Sy is ’n rolprentster. As sy vertroue in haar toneelspel gehad het, sou sy nie probeer het om Martha Stewart te wees nie.”

In 2005 het Tom Cruise se vreemde gedrag mense aan die gons gehad. Maar sy aanval op Brooke Shields se gebruik van antidepressante nadat sy aan erge nageboortedepressie gely het, was ʼn uitlating wat Shields nie beïndruk het nie.

Tom het gesê psigiatrie is ʼn grap en Brooke was mislei en het haar depressie op ’n onverantwoordelike manier hanteer. Sy het geantwoord: “Aanmerkings soos dié deur Tom Cruise is ’n ondiens aan ma’s die wêreld oor.” Hy het later verskoning gevra en vir haar ʼn mandjie met babageskenke gestuur.

Madonna en Elton John is ook al jare lange vyande. By ʼn Golden Globe-toekenningsgeleentheid het Elton tydens ʼn onderhoud gesê Madonna staan nie ’n kans om die kategorie vir beste oorspronklike liedjie te wen nie. Sy het toe gewen en met die kamera op Elton John se gesig kon mens duidelik sien hy was onbeïndruk. Madonna se kommentaar was: “Those are fighting words.”

Bronne: E! News, Business InsiderVanity Fair