titanic_premiere
Het jy gehoor?

Titanic seil weer – dié keer in 3D

Foto bo: Suzi Amis (James Cameron se vrou), James Cameron en die aktrise Kate Winslet.

Kan jy glo? Dis reeds 15 jaar sedert regisseur James Cameron se fliek oor die tragiese passasierskip Titanic ons harte gesteel het. Nóú is dié lokettreffer weer op die grootskerm te sien – dié keer in 3D! 

Dis ter herdenking van die skip se eerste (en laaste) seereis 100 jaar gelede op 10 April 1912.

Regisseur en skrywer van die fliek, die Kanadees James Cameron, is ‘n ou vir rekords breek! Behalwe dat die fliek destyds rekords by die loket en toekenningsaande verpletter het, het hy ook dié week die eerste mens geword wat na die diepste deel van die oseaan geduik het. Hy het Maandag (26 Maart) tot ‘n diepte van 10 898 meter alleen afgesak in ‘n duikkapsule – die Deepsea Challenger.

Tegniese probleme het hom egter verhoed om baie van die beplande wetenskaplike monsters in te samel. Cameron het ook al verskeie kere die Titanic-wrak onder water bestudeer en is volgens hom, verbind tot diepsee-ontdekking.

Hier’s ‘n paar vinnige springmielie-feite oor die fliek

* Titanic het 11 Oscars gewen.

* Die vervaardigers wou gehad het Matthew McConaughey moet die rol van Jack Dawson speel, maar James Cameron het aangedring op Leonardo DiCaprio.

* In die meeste tonele was die water net sowat ’n meter diep.

* Gwyneth Paltrow is oorweeg vir die rol van Rose, maar het teen Kate Winslet verloor.

* James Cameron wou nie ’n temalied vir die fliek gehad het nie, maar komponis James Horner het in die geheim gereël dat Celine Dion “My Heart Will Go On” opneem. Toe Cameron dit hoor, was hy oortuig.

* Plaaslik is dit vanaf 5 April te sien.