FOTO Instagram / @jenmeyerjewelery

FOTO Instagram / @jenmeyerjewelery

Het jy gehoor?

Tobey Maguire en sy vrou skei ná 9 jaar

Is dit skeiseisoen? Want selfs Spider-Man is besig om te skei. Die akteur Tobey Maguire en sy vrou, Jennifer Meyer, gaan skei. Die paartjie was 9 jaar getroud. 

“Ná baie oorweging het ons saam besluit om te skei,” het die vervreemde paartjie in ’n gesamentlike verklaring aan Us Weekly gesê.

Die Daily Mail berig dat Tobey onlangs dikwels saam met sy goeie vriend en Great Gatsby-medespeler Leonardo DiCaprio by nagklubs opgemerk is. Die Spider-Man-akteur en Leonardo is al 25 jaar vriende en is glo berug vir die baie partytjies in hul jonger dae.

Tobey en Jennifer het in 2003 begin uitgaan en het in 2007 in Hawaii getrou. Hulle het twee kinders, ’n dogter, Ruby (9), en ’n seun, Otis (7).

Dis traumaties as ’n huwelik eindig, maar dit hoef nie jou lewe te verwoes nie. Niemand trou en dink hulle sal jare later in die skeihof beland nie, maar dis ’n werklikheid – ons egskeidingsyfer is 3,4% op van 2013-’14, volgens die jongste syfers van Statistiek SA. Die laaste ding wat jy waarskynlik wil hoor as jy skei, is dat jy sterker daaruit kán kom.

Maar die meeste mense het die vermoë om te floreer ná ’n moeilike tyd, sê Andri Burger en Annemarike de Beer van Synergy Psychological Services (in Johannesburg, Pretoria en Bela- Bela). “Dit hang uiteindelik van jouself af: jy moet kies om gesond te word en moeite doen om jou nuwe lewe te bou.”

Annemarike en Adri gee ook dié wenke

1. Gun jouself tyd om deur jou gevoelens te werk voordat jy op nuwe geleenthede en verhoudings fokus.

2. Wees realisties. Elke verhouding het goeie én slegte tye – erken die redes hoekom jy in die eerste plek getrou het, maar werk ook daaraan om die redes vir die skeiding te verstaan en te aanvaar.

3. Moenie tyd en energie mors deur te raai waarmee jou eks besig is nie. Dit het geen doel nie en dit kan jou net langer neem om te herstel.

4. As jy vasgevang bly in woede en bitterheid, kry hulp.

5. Kiés om aan te beweeg en gelukkig te wees in jou nuwe omstandighede – dit gebeur nie vanself nie.

Lees die volledige storie Geskei maar ek’s oukei, in die Oktober 2016-uitgawe van SARIE.

Lees nou

Brangelina skei ná twee jaar

Liev en Naomi se paadjies skei ná 11 jaar

Dié bekendes is net so  starstruck  soos ons!