FOTO: Richard Harbaugh / ©A.M.P.A.S..jpg

FOTO: Richard Harbaugh / ©A.M.P.A.S..jpg

Het jy gehoor?

Dis toekenningseisoen! Hier’s wat jy als moet weet

Dit was vroeër die week die People’s Choice-toekennings en binnekort gesels ons net Golden Globes, Baftas, Oscars. En soos elke jaar is ons by SARIE baie opgewonde oor die toekenningseisoen! 

Ontwerpers skarrel rond om aktrises te kry wat hul rokke sal dra. Vervaardigers hoop hul rolprent word benoem in die groot kategorieë. En akteurs droom oor daardie goue standbeeldjie.

Op almal se lippe

Leonardo DiCaprio, Brie Larson, Eddie Redmayne, Spotlight, Room en Brooklyn. Dís name wat jy nog baie gaan hoor.

Die drie belangrikes

  • Golden Globes. Dis die kleinboetie van die Oscars, maar sluit ook toekennings vir televisie in. Wanneer? Sondag, 10 Januarie (VSA) en Maandag 11 Januarie (SA).
  • Baftas. Dis die Britse weergawe van die Oscars. Wen jy ’n Bafta is die kans goed dat die Oscar-beeldjie joune is. Wanneer? 14 Februarie (VSA) en 15 Februarie (SA).
  • Academy Awards (Oscars). Die grootmeneer. Elke akteur en regisseur droom van dié een. Wanneer? 28 Februarie (VSA) en 29 Februarie (SA).

Tussendeur is daar nóg toekenningsgeleenthede – hou SARIE.com dop vir al die opwinding!

Voorspellings

Beste Akteur: Leonardo DiCaprio vir The Revenant (22 Januarie in SA teaters)

Akteur Leonardo DiCaprio met 'n 'comb over'-styl  FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Hoekom? Kritici is gaande oor sy spel in die oorlewingsdrama The Revenant. Dit speel af in 1820 en die uitdagende rol het baie van Leonardo geverg. Dis ook ’n ware verhaal wat gewoonlik in die akteur se guns tel. Kom ons hou duimvas dat dit dié keer Leo se beurt sal wees.

Ander moontlike wenners: Michael Fassbender in Steve Jobs, Eddie Redmayne in The Danish girl en Jacob Tremblay in Room.

Kyk The Revenant se lokprent:

Beste aktrise: Brie Larson vir Room (26 Februarie in SA teaters)

Hoekom? Sy het harte gesteel met haar spel in Room, wat gaan oor ’n jong ma wat saam met haar 5-jarige seun in ’n kamer aangehou word. Kritici meen haar spel is eerlik, wat baie gewig dra. Sy het ook die skerm gedeel met die 9-jarige Jacob Tremblay. Die rolprent sal moontlik ook ’n paar ander toekennings losslaan.

Ander moontlike wenners: Saoirse Ronan in Brooklyn, Alicia Vikander in The Danish Girl of Ex Machina en Cate Blanchett in Carol.

Kyk Room se lokprent hier:

Beste rolprent: Spotlight

Hoekom? Dié treffende drama kan beslis die beeldjies vat, meen kritici. Dis gegrond op die Amerikaanse koerant The Boston Globe se ondersoek na beskuldigings van kindermolestering deur Rooms-Katolieke priesters. Die goeie spel, regie en draaiboek maak Spotlight ’n swaargewig.

Ander moontlike wenners: The Big Short, Brooklyn, Inside Out en Mad Max: Fury Road.

Kyk Spotlight se lokprent:

Lees nou