Top Billing se Jeanne D en Janez Vermeulen. FOTO: Twitter

Het jy gehoor?

Top Billing se Jeannie D en Janez kuier in Rwanda

Die TV-program Top Billing se Janez Vermeulen en Jeannie D kuier in dié week se Top Travel-episode in Rwanda.

Die twee aanbieders besoek die Vulcanoes Nasionale Park om meer te leer oor die gorillas daar en oor die park se beleid teen gorilla-stropery. Blykbaar word slegs ’n klein hoeveelheid mense elke dag toegelaat om dié diere te sien.

Dié nasionale park, tuiste van ’n paar van die wêreld se laaste berggorillas wat nog in die natuur leef, probeer om wildstropers in vennote te omskep.

Top Billing-aanbieder Jeanne D kyk gorillas in Rwanda. FOTO: Twitter

Top Billing-aanbieder Jeannie D kyk gorillas in Rwanda. FOTO: Twitter

“Pleks dat hulle die stropers tronk toe stuur, het hulle die mense gerehabiliteer sodat húlle nou diegene is wat die gorillas versorg en teen menslike gevaar beskerm. Dit is een van die mooiste plekke waar ek al was. Die Volcanoes Nasionale Park word so goed beskerm en als daar gaan oor rehabilitasie,” vertel Jeannie, wat haar besoek aan die park beskryf as een van die asemrowendste oomblikke van haar lewe.

Tydens hul besoek aan Rwanda het Jeannie en Janez ook gaan kyk hoe sake in dié land staan 20 jaar ná die mense-slagting. Hulle besoek onder meer die Genocide-museum en Hotel Rwanda, waar die Tutsi’s vir 100 dae geskuil het.

*Dié besoek aan Rwanda is verfilm vir Top Travel wat vanaand om 20:00 uitgesaai word.

RSG se Martelize Brink het ook na Rwanda se gorillas gaan kyk. Lees dié storie EKSKLUSIEF in die April-uitgawe van SARIE, vanaf 17 Maart op straat. Intussen kan jy hier kyk na ’n video-onderhoud waar Martelize oor haar tog gesels.