FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Top-SA model Katryn Kruger gesels oor modelwerk + die liefde

Die internasionaal bekende model Katryn Kruger, wat al ‘n paar keer in SARIE verskyn het, het onlangs verloof geraak aan haar kêrel van vier jaar, die mediese dokter Cilliers Kies. En met die modelwerk gaan dit ook baie goed, vertel sy aan SARIE.com.

Katryn en Cilliers was verlede week saam by die bekendstelling van Maison Mara in Kaapstad.

FOTO: Niquita Bento by die bekendstelling van Maison Mara in Kaapstad

FOTO GENEEM DEUR: Niquita Bento by die bekendstelling van Maison Mara in Kaapstad

Hoe gaan dit met jou modelwerk?

Dit gaan baie goed. Ek reis nou weer voltyds en was pas vir ’n maand in New York. Ek is nou by die huis vir twee weke voordat ek weer my tasse moet pak.

Waaraan werk jy op die oomblik?

Tans is ek voltyds model. Ek doen egter nie meer voltyds modeweke (op loopplanke) nie, ek verkies nou eerder fotosessies. Ek reis baie, meestal na stede soos New York, Londen en Parys.

Wat was sover jou hoogtepunt van 2015?

Dit was vir my ’n groot hoogtepunt om weer saam met die baie bekende fotograaf Greg Kadel te werk.

Wat lê nog vanjaar voor?

Met modelwerk weet mens mos nooit hoe die program lyk tot omtrent 24 uur voor die tyd nie. Alles is altyd last minute! Maar ek weet wel dat ek oor drie weke in die Franse Alpe werk. Ek was nog nooit daar nie en ek sien baie uit.

Jy het in al wat ’n modehuis is se veldtogte gepryk. Wat wil jy nog as model bereik?

Ek sal graag ’n groot skoonheidsveldtog wil doen vir grimering of parfuum.

Katryn in 'n Dior Eyewear advertensieveldtog.

Katryn in ‘n Dior Eyewear-advertensieveldtog.

Is jy vriende met ander internasionale modelle?

Ja, ek het ’n paar vriendinne van regoor die wêreld. Ons sien mekaar net min omdat ons so baie reis.

Buiten jou modelwerk studeer jy ook.

Ek doen tans ’n deeltydse kursus in taalredigering. Dit is vreeslik lekker omdat dit oor die internet gedoen word en dis ’n kort kursus (bietjie langer as 10 weke). Dit gee my die vryheid om steeds te reis en te werk, maar ook my (akademiese) horisonne te verbreed.

Ek geniet dit baie om weer te studeer, ek glo dis belangrik om aan te hou leer omdat ek nie vir altyd modelwerk sal doen nie.

Wat maak jou trots om Suid-Afrikaans te wees op die internasionale modeplanke?

Ons as Afrikaners is hardwerkende mense wat nie sommer handdoek ingooi nie. Ek dink dié eienskap help my om deursettingsvermoë te hê en hard te werk. Ek glo ek het die vermoë om dinge in perspektief te sien.

’n Paar ontwerperskoene kos dalk R80 000, maar ek sal dit nooit oor my hart kry om daardie prys te betaal nie omdat ek weet hier in my Moederstad kan R80 000 vir mense kos, klere, en dalk selfs ’n dak oor hul koppe bied.

Die modebedryf is baie materialisties en vir my is dit belangrik om gegrond, nederig en oopkop te bly. Die feit dat ek baie terugkom Suid-Afrika toe, help my om steeds “Katryn” te bly.

Katryn speel model vir SARIE FOTO: Ulrich Knoblauch

Katryn speel model vir SARIE
FOTO: Ulrich Knoblauch

Jy en Cilliers is al lank saam – wat hou die toekoms vir julle in?

Ons is al vier jaar saam en het onlangs verloof geraak. Ons beplan om in die nabye toekoms oorsee te trek waar hy as mediese dokter sal praktiseer en ek modelwerk doen en reis. Ek sal dan nader wees aan die groot modestede van die wêreld.

A photo posted by Katryn Kruger (@katrynkruger) on

Baie geluk, Katryn en Cilliers!

Lees ook