FOTO: Instagram / @traceylange

FOTO: Instagram / @traceylange

Het jy gehoor?

Tracey Lange dra geen maskers nie

Sy is die Bravo!- en radio-aanbieder met die kopagteroor, uitbundige lag. Dis g’n masker nie: Soos Tracey Lange voor die kamera en agter die mikrofoon is, so is sy elke dag.

Tracey Lange staan soos ’n eksotiese blom uit. So deel van die Kaap soos die berg, wind, wyn. Plek van haar hart, holte vir haar voet. Haar pastelgroen rok beweeg liggies. Aan haar voete is baksteen-rooi tekkies. ’n Paar groen wighakskoene in die sak langs haar. Sy is gemaklik in albei: verteenwoordigend van die rooitapyt- glanswêreld van Bravo!. En plat op die grond, letterlik te voet deur die Moederstad se strate.

FOTO: Marijke Willems

FOTO: Marijke Willems

Daai lag, kopagteroor, uitbundig, vry. Is dit hoe jy regtig voel, hoe jy die lewe aanpak?

Sommige mense raak moeilik oor my lag. Hulle reken dalk dis te hard, of dalk is iemand wat altyd alles geniet ’n pyn. Ek dink nie almal kan verstaan dat ek gelukkig is vandat ek my oë soggens oopmaak nie. Hulle ervaar dit dalk as vals. My lag kom natuurlik en ek voel net so. Ek put soveel plesier uit klein dingetjies. Soggens skrik ek wakker, dis doodstil en dan hoor ek die eerste voëltjie. Ek kan presies sê hoe laat: In die winter net ná 6.30 en in die somer 4.33.

Jy gesels so maklik, op die lug, TV, in geselskap. Is dit deel van jou persoonlikheid of moes jy dit aanleer?

Dis maklik, maar ek is nietemin gemakliker met stilte. Om byvoorbeeld by die huis te sit en in stilte na die berg te kyk. Maar ja, mense voel tuis in my geselskap en dis belangrik. Ek doen moeite dat jy nie uit jou gemaksone voel nie. Dis vir my lekker, so op my eentjie in die ateljee. Ek fokus op die luisteraars en kleur hul dag ’n bietjie in. Aanvanklik kon ek nie verstaan dat hulle na my sou wou luister nie. Tot ek besef het ek is die middelman wat ander mense se stories na hulle toe bring.

Al die glamour… hoe hou jy jou voete op die grond?

Ek is mos g’n beter as enigiemand anders nie. Ek het ’n lekker werk, ja. En dis wonderlik as mense my wil ontmoet en met my wil gesels. Ek dink in elk geval nie my ma sal toelaat dat ek ’n groot kop kry nie.

Jy is baie by liefdadigheid betrokke?
My ouers het van kleintyd af die voorbeeld gestel. Dis deel van my lewe, iets waaroor ek nie twee keer dink nie. Jongmense is veral vir my belangrik, om hulle die potensiaal in hulself te laat ontdek. Soos iemand my gehelp het om dit in myself raak te sien.

’n Mens kan jou op TV deur ’n ring trek. Is dit jou eie styl? En wat dra jy tuis?

Dis my eie styl, hoëhakke, baie kleur. Dis lekker om mooi aan te trek. En hoef nie die duurste klere te wees nie. Tuis trek ek gemakliker aan, ’n kortbroek, helder top. Altyd netjies, ek kan met selfvertroue vinnig iewers heen gaan.Mymaisnetso.Toeeknogin die huis was, het my kerkvriende altyd gesê: Sjoe, ons kan nie wag dat jou ma Sondae die kerk instap nie, ons wil na haar skoene kyk. Sy het meer as ek!

Waar sien jy jouself oor tien jaar?
Tien jaar? My lewe sal nie tot ’n einde kom as ek nie kinders het nie, al is ek deesdae gemakliker met die idee. Ek sou graag getroud wou wees, meer oorsee wou gaan vir my werk . . . die res weet ek nie. Ek beplan nie my lewe vooruit nie. En wil maar net die beste wees wat ek nou kan wees.

FOTO: Instagram / @traceylange

FOTO: Instagram / @traceylange

 Lees nou