Whatever-happened-to-baby-jane
Het jy gehoor?

Ou Hollywood-twis – nuwe TV-reeks

As jy American Crime Story: The People v. O.J. Simpson geniet het, sal jy van Feud hou. Dié reeks delf verder terug in die Amerikaanse geskiedenis en kyk na legendariese vetes

Hoewel die TV-reeks eers volgende jaar begin, het dit reeds die tonge los. En dis grootliks danksy die vervaardiger en skrywer Ryan Murphy. Want te oordeel na sy vorige projekte soos American Horror Story en American Crime Story, kan ons weer silwerdoek-gehalte op die kassie verwag. Soos met dié twee reekse gaan Feud ook elke seisoen ’n ander storie vertel.

Vir die eerste seisoen kan ons uitsien na die intrige tussen die aartsvyande Joan Crawford en Bette Davis.

Dié ikoniese aktrises kon mekaar glo nie duld nie, al het hulle in 1962 saam aan die rolprent What Ever Happened to Baby Jane? gewerk. Dié film het destyds 5 Oscar-benoemings ontvang.

In die foto: Bette Davis, die vervaardiger Jack Warner, en Joan Crawford

Vanity Fair het in 2000 vir die veteraan-vervaardiger William Frye oor dié twis gevra. Hy verklap in die artikel dat Bette glo vir Joan “La Belle Crawford” genoem het. En toe Bette haar outobiografie, The Lonely Life, bekend stel, het Joan vir ’n getekende kopie gevra. Bette het nie geweet wat om te skryf nie en het besluit om voorin die boek te skryf: “Joan, thanks for wanting my autograph. Bette.

Ander (skinder)stories wat in Hollywood oorvertel word, gaan oor die 1963-Oscars. Bette is benoem vir beste aktrise vir haar rol in What Ever Happened to Baby Jane?, maar nie Joan nie. Joan het glo die ander benoemde aktrises gebel om te sê sy sal die toekenning ontvang as een van hulle wen, maar nie die geleentheid kan bywoon nie.

Dit gebeur toe ook so dat Bette en Joan saam wag vir die aankondiging. Toe Anne Bancroft se naam uitgelees word, loop Joan oor die verhoog om die beeldjie te ontvang. In dié foto staan sy (naasregs) met Anne se Oscar-beeldjie by Gregory Peck (links), Sophia Loren (naaslinks), en Maximilian Schell (regs).

Ná die nuus van Joan se dood het Bette blykbaar gesê:

“You should never say bad things about the dead, only good … Joan Crawford is dead .. Good.”

Maar wat was die rede vir dié haat? Was dit slegs professionele jaloesie of is die liefdesdriehoek met die akteur Franchot Tone die oorsaak? Ons gaan maar Feud moet kyk om uit te vind …

Die talentvolle Jessica Lange en Susan Sarandon gaan die rolle van onderskeidelik Joan en Bette vertolk.

In die foto’s: Joan Crawford (bo) en Jessica Lange (onder)

In die foto’s: Bette Davis (bo) en Susan Sarandon (onder)

Kyk hieronder vir Joan en Bette in aksie in What Ever Happened to Baby Jane?

Bronne: Huffington Post, Vanity Fair, LA Times, QueensofVintage.com, ArtsMeme.com