Het jy gehoor?

Het jy geweet? Van vyande tot verliefdes: The Notebook-sterre kon mekaar nie verdra nie

Ryan Gosling en Rachel McAdams was nie net verliefdes op die grootskerm nie, maar ook in die “regte lewe”. Maar kan jy glo? Dié twee kon mekaar eers nie verdra nie!

Ryan en Rachel se toneelspel in The Notebook in 2004 het ons weer in liefde laat glo en toe dié twee sterre kort ná die fliek se uitreiking ook in die regte lewe begin uitgaan, het hulle een van ons gunsteling-paartjies in Hollywood geword.

Maar nou het dit aan die lig gekom dat Ryan en Rachel in die begin byna nie eens in dieselfde vertrek gelos kon word nie, berig Daily Mail.

The Notebook se regisseur, Nick Cassavetes, het nou onthul dat Ryan en Rachel nie net gereeld vasgesit het nie; die spanning tussen die twee (wat uiteindelik vir 4 jaar uitgegaan het) het een keer só erg geraak dat Ryan gevra het sy medester moet vervang word – glo omdat daar nie ’n vonk tussen hulle was nie, skryf Us Magazine.

“Ek kan nie. Ek kan dit nie saam met haar doen nie. Ek kry net niks uit dié nie,” het Ryan glo aan die regisseur gesê. Gelukkig kon hulle die fliek klaar maak. “Die res van die rolprent het nie seepglad verloop nie, maar dit het gladder verloop [ná dié groot uitval],” het Nick vertel.

Ryan en die aktrise Eva Mendes wat saam met hom in The Place Beyond the Pines was, gaan deesdae aan-en-af uit. En as die skindertonge geglo kan word, is Rachel en háár nuwe medester, Jake Gyllenhaal, deesdae ’n paartjie.

Maar volgens Daily Mail is Ryan glad nie gelukkig met dié ontwikkeling in Rachel se liefdeslewe nie, omdat hy glo steeds gevoelens vir haar koester.

Bronne: Us Magazine & Daily Mail