FOTO: Willem Lourens

FOTO: Willem Lourens

Het jy gehoor?

Vicky Davis en Schalk Joubert: Dolverlief op mekaar & hul baba

Klein Lira het vyf weke te vroeg haar opwagting gemaak ná ’n moeilike swangerskap. Maar nou is Vicky Davis en Schalk Joubert sulke natuurlike ouers dat hulle selfs die kleintjie wil saamneem op wittebrood. 

’n Keisteenpaadjie kronkel deur Stellenbosch se wingerde na ’n plaashuis waar drie honde beskermend blaf. Vicky Davis, vir wie ons as Tessa in 7de Laan en as veldaanbieder van Pasella op SABC2 leer ken het, sluit die hek oop. Aan haar slanke lyf is geen teken dat sy ’n paar maande gelede ma geword het nie. Hier woon sy saam met haar man, Schalk Joubert, die ewe bekende en bekroonde baskitaarspeler.

Die knus huis aan die oewer van ’n reuse-plaasdam lyk ingeleef, maar netjies. Sagte jazz speel in die sitkamer. Al teken van ’n baba is die stootwaentjie. Klein Lira Victoria slaap nog elders.

Die naam Lira is so liries, sê Schalk. “Dit beteken harp.” Dis ook so eenvoudig, sy sal dit vroeg reeds self kan skryf. “Dan sal sy vir altyd glo sy’s slim,” sê Schalk en glimlag. Haar tweede naam, Victoria, was Vicky se ouma s’n.

Pa- en ma-wees kom vir hulle heel natuurlik. “Ons het Lira beplan toe ons emosioneel absoluut gereed was daarvoor,” sê Vicky. “Jy moet eers oukei wees met wie jy is,” beaam Schalk. “Op ons ouderdom is ons ook nie meer so angstig nie, dié dat Lira so rustig is.”

Dis voedingstyd. Sy maak ’n bottel melk louwarm en bring die allerpragtigste baba, toegewikkel in ’n pienk kombersie, te voorskyn. Hoe dan anders met sulke geneties bevoorregte ouers? “Sy het Schalk se ore en lippe,” sê Vicky. “En Vicky se mondvorm,” sê hy.

Lira maak haar groot donker oë oop, ook die ene Schalk. Sy sê nie “ê” nie. “Die verpleegsters het gesê hulle weet nie eens hoe sy klink nie,” vertel Vicky. “Sy is regtig baie chilled,” voeg Schalk by.

Terwyl Vicky gesels, gee hy bottel. Albei kyk na hul dogtertjie asof sy uit die hemel geval het.

Met die swangerskap het alles nie só goed verloop nie. Vicky is vier keer weens erge migraine in die hospitaal opgeneem. Sy het ook water teruggehou. “My voete het soos poffertjies gelyk.” Van die meer as 20 kilogram wat sy aangesit het, is daar [’n onopsigtelike] 10 oor, reken Vicky. “Maar ek gaan my nie daaroor ontstel nie. Dit sal mettertyd, en met behulp van borsvoeding, regkom.” Intussen eet sy gesond en gaan stap sy gereeld.

Klein Lira het reeds op 10 Desember opgedaag, terwyl sy eers op 13 Januarie verwag is. Die naweek voor haar geboorte het haar ouers nog die babakamer reggemaak en ooievaarstee gehou. “Ek moes dadelik hospitaal toe, want met sulke hoë bloeddruk kan die plasenta losskeur en jou organe ingee,” sê Vicky. Dit kan jou dood beteken.

Die twee, wat op 11 September verlede jaar getroud is, is eintlik nog op wittebrood. Hulle lyk smoorvelief, raak gereeld aan mekaar en noem mekaar liefie. Hulle was 13 jaar lank hegte vriende “wat mekaar weerstaan het”, uit vrees dat die een die ander sou kon verloor indien die verhouding misluk.

Albei hanteer Lira soos ervare ouers. “Dit help dat ons mekaar so goed ken,” sê hulle. Omdat hul verhouding op “’n vaste fondament van vriendskap gebou is”, het haar koms dit beslis verdiep, voeg Schalk by.

Hulle neem haar oral saam. “Heel moontlik ook op wittebrood na Italië.” Daar was nog net nie tyd nie. Hulle glo wel in tyd maak vir hulself.

Die volledige artikel het in die Mei-uitgawe van SARIE verskyn, laai dit hier af.

Lees nou