FOTO: Twitter @Kurt Darren

FOTO: Twitter @Kurt Darren

Het jy gehoor?

Só vier plaaslike bekendes Moedersdag

SARIE.com het ’n paar bekende pa’s gevra hoe hulle hul vroue op Moedersdag (komende Sondag) gaan bederf. Hul antwoorde het ons aangenaam verras! Ons het ook bekende ma’s gevra wat dit vir hulle beteken om ’n ma te wees.

Kurt Darren

Kurt en Dunay se dogtertjie, Kyrah, is ses maande oud, daarom vier dié paartjie die eerste keer Moedersdag. Ons het vir Kurt gevra hoe hulle die dag gaan deurbring.

My prioriteit vir Dunay se eerste Moedersdag is dat ek by die huis moet wees, en ek is! Ek neem my jong gesin na ’n awesome wildplaas in die Klein-Karoo, dit gaan ’n baie spesiale tyd wees.

Braam Riekert

Sorina Erasmus, aka Die Flooze, se man beplan ’n baie romantiese geskenk! Hy en hul seun, wat bekend staan as Braambossie, gaan vir Sorina ’n roostuin aanplant.

Hy sê Moedersdag is vir hom ’n spesiale dag waarop hy kan wakker word met waardering en liefde vir sy ma.

“Noudat ek die onvoorwaardelike opofferinge en liefde van moederskap eerstehands beleef deur na Sorina te kyk met ons eersteling, wat net oor ’n jaar oud is, waardeer ek dit nog meer.”

Hy en sy seuntjie gaan vanjaar ’n roosboom plant in hul tuin en elke jaar met Moedersdag dié tradisie voortsit. “Oor ’n paar jaar van nou af het ons ’n hele liefdesbedding van rose aan ’n mamma vir ONS kinders.”

Bobby van Jaarsveld

Bobby het ’n baie romantiese plan vir Moedersdag. Hy neem sy vrou en hul twee seuns, Sion en Leben, vir 10 dae Thailand toe. Hulle vertrek Sondag en gaan in Phuket vakansie hou.

Wat beteken Moedersdag vir dié mammas?

Elizma Theron

Hoewel sy op Moedersdag optree, sal haar dogtertjie Eli-zé beslis saamgaan, vertel Elizma. “Daarna sal ons saam as gesin iets spesiaals doen.” Sy kan moederskap nie in woorde beskryf nie. Sy sê die gevoel om haar in die oë te kyk en die liefde te sien, die vertroue wat sy in haar as ma het te voel en te hoor hoe sy haar Mamma noem, is ongelooflik.

Elizma, Nico en Eli-zé verlede jaar FOTO: Facebook

Elizma, Nico en Eli-zé verlede jaar
FOTO: Facebook

“Die liefde wat ’n ma het, is ’n bangmaak-liefde. Jy wil hulle beskerm van seerkry, maar jy kan nie. Dit is letterlik jou hart buite jou eie liggaam,” vertel Elizma.

Die belangrikste les wat sy vir klein Eli-zé wil leer is om altyd in God se lig te wandel. “As jy doen wat jy kan, sal Hy doen wat jy nie kan nie.”

Carla Else, Sean Else se vrou

“Die lekkerste deel van ma-wees is al die drukkies en soentjies, en dat iemand spesifiek vir jou as hul mamma nodig het. Dis baie spesiaal. Niks is lekkerder as die oomblik wanneer jy by die huis inkom en hulle in jou arms spring nie. Jy weet byna nie wat liefde is totdat jy ‘n ouer word nie,” vertel Carla.

Carla en Sean Else met hul kinders, Vaugh , Caylem en die jongste Daniel FOTO: Facebook

Carla en Sean Else met hul kinders, Vaugh , Caylem en die jongste Daniel
FOTO: Facebook

As ma van vier seuntjies sal sy graag vir hulle wil leer om die lewe altyd te geniet, om hul vrou eendag op die hande te dra, soos Sean haar op sy hande dra. “Ek bid regtig vir gesondheid en dat hulle hul drome sal uitleef, dat hulle die mans sal wees wat God hulle geskape het om te wees, en altyd ander met respek en liefde sal hanteer. Dis my drome vir hulle.”

Vicky Davis

In hierdie stadium is Vicky net die feit dat Lira (5 maande) pragtig gesond en normaal is, ’n groot genoeg geskenk vir haar op haar eerste moedersdag.

“Ek en Schalk het so baie pret met ons babatjie – sy is nou op die lag en giggel stadium en ons speel heerlik met haar,” vertel Vicky. “My heel gunsteling is om vir haar te dans, dan skater sy van die lag, veral as ek lekker belaglike moves maak, dis te oulik!”

Die lesse wat vicky graag vir Lira wil leer is om moeite te doen om haarself te leer ken, haar goeie en sterk punte, waarvan sy hou en nie hou nie.  “Om elke nou en dan ’n oomblik om te reflect en seker te maak sy bly eg aan wie en wat jy is. En om nooit te hard oordeel nie, nie haarself nie en ook nie ander nie,” sê Vicky

Lees ook: