Foto: Gallo Images/ Getty

Foto: Gallo Images/ Getty

Het jy gehoor?

Volg jong aktrises in Angie se spore?

Angelina Jolie se liefdadigheidswerk is lankal ou nuus. Maar nou lyk dit of twee jonger aktrises in Angie se welwillendheid-spore wil volg …

Angie, wat eers aangewys is as welwillendheidsambassadeur van die Verenigde Nasies (VN) en later ook as die VN kommissaris António Guterres se spesiale gesant, het selfs in November by die Oscars erkenning gekry vir haar humanitêre werk.

Nou lyk dit of Emma Watson, bekend vir haar rol as Hermione in Harry Potter-faam, en Keira Knightley dieselfde pad wil stap.

Emma is pas aangewys as welwillendheidsambassadeur vir die VN se organisasie vir vroue en Keira is onlangs na Suid-Soedan vir ’n humanitêre uitreikprojek, skryf The Guardian en Daily Mail.

Emma Watson FOTO: Bryan Crowe / ©A.M.P.A.S

Emma Watson by die Oscars FOTO: Bryan Crowe / ©A.M.P.A.S

In haar nuwe rol gaan Emma help om gelykheid tussen mans en vroue te bevorder, meestal in samewerking met die HeForShe-veldtog. “Die kans om ’n werklike verskil te maak, is nie ’n geleentheid wat elkeen van ons kry nie. En dis een wat ek geensins beplan om ligtelik op te neem nie,” het Emma gesê.

Sy is aangewys kort nadat sy Zambië en Bangladesj besoek het om humanitêre werk te doen vir die onderrig van meisies. Sy gaan saamwerk met Phumzile Mlambo-Ngcuka, voormalige adjunk-president van SA en deesdae uitvoerende direkteur en onder-sekretaris-generaal van UN Women.

“Ek is oortuig daarvan dat Emma se intellek en passie UN Women se boodskappe in staat sal stel om die harte en gedagtes van jong mense oor die hele wêreld te bereik,” het die Suid-Afrikaanse politikus gesê.

Intussen doen nóg ’n Britse aktrise humanitêre werk.

Keira Knightley het onlangs teruggekeer van die konflikgeteisterde gebied in Suid-Soedan, waar sy ’n vlugtelingkamp saam met Oxfam, ’n konfederasie van liefdadigheidsorganisasies, besoek het.

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Keira by ‘n modevertoning van Chanel FOTO: Gallo Images / Getty Images

“Toe daardie vlugtelinge my vra, ‘Wie is jy?’, het ek regtig gewens ek kon sê, ‘Ek’s ’n dokter’ of iets anders wat van nut sou wees,” het sy ná die besoek vertel. Sy het toe net vir die Soedannese gesê dat sy mense gaan vra om baie geld aan Oxfam te skenk, sodat die inwoners van Suid-Soedan gehelp kan word.

Dit klink of dié aktrise, wat ook haar Soedannese ervaring as hartverskeurend beskryf, gemotiveer is om die gesinne te ondersteun wat ly weens konflik in die gebied.

Bronne: The Guardian &Daily Mail