Evette Weyers
Het jy gehoor?

“Vrede in my vel” – Marius Weyers se vrou vertel

Beeldhouer Evette Weyers het ’n stuk oor haar vel geskryf en op Facebook gedeel. Sy het soveel reaksie gekry dat sy ‘VEL’, wat ook in haar boek* opgeneem is, met SARIE-lesers* wou deel …

Dit is vroegherfs en ek is alleen by die huis. Marius werk in die noorde. My wekker lui die oggend net ná vyf. Ek klim uit die bed en glip in my vel, wat die hele nag in ’n verkreukelde hopie op die vloer gelê het. My vel hang los en ongestryk van my skouers af. In die halfdonker sien ek myself in die spieël, en my voorgeslagte loer deur al die kreukels en rimpels in my vel – my ma, my ouma, my oumagrootjie. Nadat ek iets warms gedrink het, gaan stap ek en my swart wolfhond seelangs. My vel pas nou beter en geleidelik, met elke beweging, kan ek dieper en dieper in haar inbeweeg.

In my ateljee is dit net ons swart wolf wat by my is terwyl ek werk. Vir haar maak dit geen verskil of my vel meer vertroud raak met my lyf, of dit stywer pas, oer-oud lyk of splinternuut is nie. Ek let dit ook nie op nie, want my kop is by die werk, by musiek of ’n radioprogram waarna ek luister.

Laatmiddag gaan ek duik. Nou trek ek ’n tweede vel bo-oor my eie aan – my welbekende duikpak-vel. Die koue kom deur die duikpak se skeurtjies, want die suidooster het die boonste laag warm seewater weggewaai en die yskoue, voedingryke bodemwater – wat soveel vis lok – styg na die oppervlak. Elke stukkie van my lyf en vel voel die soutkoue van die see en word wakker.

Net voor aandete loop ek en my swart wolf weer kuslangs. Terug in die kombuis, sien ek skuinsweg my weerkaatsing in die venster. Deur die dag het ek my al hoe meer in my vel ingeleef en ingeëet. Ek lyk nou heel skaflik, as mens en vrou.

Vir my is dit lekker om saans te werk. Ek hou veral van Dinsdag- en Woensdagaande, wanneer programme soos Leeskring, RSG-kuns, Vers en Klank en Kortom (kortverhale – dikwels deur die skrywer self voorgelees), uitgesaai word. Ek luister ook graag na Fine Music Radio terwyl ek werk. So kwart voor twaalf is dit my tjaila-tyd. Ek tel ’n blink, ronde skinkbord van die tafel af op en kyk of my vel nou byna perfek pas. Ons glimlag vir mekaar in die refleksie van die skinkbord. Ek weet, vannag, net voor die horlosie twaalfuur slaan, sal my vel heeltemal styf en perfek en jeugdig om my lyf pas. Die vaak begin oor my spoel. Ek skakel die radio in my ateljee af, maak my beelde toe, klim met die leer uit my ateljee af onder toe en mik bed toe.

Eers staan ek buite met my wolf en sê nag vir die Klein Hangklip-berg en vir my man doer in die noorde, waar my liefde vannag slaap. In ons slaapkamer maak ek my vel los. Sy sak af en af tot ’n klein bondeltjie op die vloer. Ek stap liggies uit haar uit en gaan lê – té vaak om daaraan te dink om haar aan ’n kapstok op te hang sodat sy minder kreukel. Ek sak weg in die tydlose slaap, waar verganklikheid nie bestaan nie, waar slaap alle rimpels uitstryk, alles vergewe en alles heel.

Uit Wat die hart van vol is …, Evette Weyers (Hemel & See Boeke, 2013)

Evette en Marius

Evette en Marius

4 vrae aan Evette

Hoekom ontlok jou stuk soveel reaksie by vroue?
Ons vroue wil mooi en aantreklik wees. Die ouderdom kom en jy koes soggens vir jou spieëlbeeld. Tot jy vrede maak daarmee. Die rykheid van jou eie lewe en die groter ruimte deurleef. Vir baie was “VEL” ’n ontlading oor oudword. Ook ’n viering van ons grenslose verbeelding en vindingrykheid, ongeag ouderdom.

Hoe maklik of moeilik kom skryf?
Baie maklik. Dit vloei uit my uit.

Jy is ook ’n beeldhouer. Hoe verskil die skryfproses van beeldhou?
Om die beeld te vind boor ek deur klip. Dis ’n blinde ontginningsproses voor ek die aar raakboor. Skryf daag ongevraagd op en swiep my op … suiwer kreatiewe oorvloed.

Gebruik jy Marius, jou akteur-man, ooit as klankbord?
Altyd. Dis heerlik!

* Dié artikel is in die Mei 2014-uitgawe van SARIE gepubliseer.

Nóg oor Evette en Marius op SARIE.com