FOTO: Instagram @katiemeluaofficial

Het jy gehoor?

Vreemd! Spinnekop leef week in sangeres Katie Melua se oor

Die “Nine Million Bicycles”-sangeres Katie Melua het ‘n week lank ’n spinnekop in haar oor gehad, en die gogga het dit oorleef! Sy het dié agtpoot op Instagram gedeel.

Daar was ’n ritseling in Katie se oor en ná ’n week het sy besluit om dokter toe te gaan. Sy het aanvanklik gedink sy is besig om haar gehoor te verloor, en sou nooit kon raai dat dié geluid eintlik ’n spinnekop was wat homself in haar oor tuisgemaak het nie.

Die Britse sangeres glo die spinnie was op ou oorfone wat sy gebruik het om klank tydens ’n vlug uit te blok.

FOTO: Instagram  @katiemeluaofficial

FOTO: Instagram @katiemeluaofficial

Die dokter het die spinnekop vir Katie in ’n houer gegee en sy het hom later in haar tuin vrygelaat, berig The Guardian. Volgens die dokter het hy nog nooit iets lewends uit iemand se oor gehaal nie, wel baie dooie goggas.

Die Amerikaanse Nasionale Gesondheidsinstituut beveel aan dat mense wat dink daar is iets in hul oor nie self moet krap nie – die insek kan dalk steek of byt. Draai eerder jou kop sodat die gogga uitval, of gooi mineraal-, olyf- of babaolie in jou oor om dit te versmoor. Dit sal dan saam met die olie uitkom. Besoek ’n dokter so gou moontlik as die insek of spinnekop nie wil uit nie.

Bron: The Guardian en Instagram