FOTO Unsplash / Aral Tasher

FOTO Unsplash / Aral Tasher

Het jy gehoor?

Vroue bestuur beter as mans … of hoe?

Sandra en Margit sê ons kan multitask. 

“Ek dink ons bestuur beter omdat ons kan multitask. Teen die tyd dat jy oor elke skouer, spieëltjie en ruit geloer het, is daar weer ’n nuwe motor in jou visier, en vroue doen alles in een en sit dan nog sommer lipstiffie ook aan,” meen die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck.

Die aktrise Sandra Prinsloo stem saam. Sy het ook al baie gewonder oor wie die beter bestuurders is – mans of vroue. “Ons is dalk minder geneig tot padwoede, wat dalk een van die grootste faktore is wat lei tot ongelukke.”

Die Burger se motorredakteur, Marnus Hattingh, reken: “Vroue is bedagsame dog versigtige bestuurders. Waar mans meermale van baan sal verwissel sonder om ’n flikkerlig eens te oorweeg, sal vroue, in my ervaring, deur al die stappe gaan: flikkerlig aansit, wag en eers dan oorbeweeg. Mans is ook meer geneig om kanse te waag soos by ’n geel verkeerslig of wanneer hy regs wil draai by ’n besige kruising. Vroue, daarenteen, sal wag vir ’n groter gaping voor hulle sal regsdraai.’’

Sandra vertel hoewel sy van spoed hou, ry sy nie meer té vinnig nie. “Dit raak te duur!” Sandra hóú van ry. Langafstande en uitdagende viertrek-ritte. Sy is baie bewus van padveiligheid en sal nooit ’n SMS stuur of lees agter die stuur nie. “Ek beantwoord my foon slegs as ek op Bluetooth is en my hand op die stuurwiel bly en dan ry ek ook stadiger. En ek neem gereeld ’n breek by byvoorbeeld ’n padstal wanneer ek lang afstande ry. Mans hou mos daarvan om van punt A tot B in een rit af te handel.”

FOTO Unsplash / Jakob Owens

FOTO Unsplash / Jakob Owens

Marnus meen vroue kan wél aan ’n paar punte werk … “Soms is ’n huiwering in ’n besige situasie meer gevaarlik as om ’n situasie vinnig op te som en tot aksie oor te gaan.”

Hy vertel ook ’n winkelsentrum in China het vroeër dié jaar agt van sy vierhonderd parkeerplekke pienk geverf met ’n wit vroue-teken (soos by badkamers) daarop. Dié parkeerplekke is die helfte breër as die gewone plekke en slegs vir vrouebestuurders gereserveer. “Dít klink natuurlik seksisties, maar die sentrumbestuurder het gesê sy sekerheidswagte is gereeld deur vroue gevra om hul motors namens hulle te parkeer. Of dit dus ’n onervarendheid met motors is – China het onlangs eers vinnig verwesters – en of dit met vroue se ruimtelike persepsie te make het – is ’n ope vraag,” meen Marnus.

Wat sê die navorsing? In ’n maand lange studie deur die Londense versekeraars Privilege Insurance is 200 bestuurders dopgehou en punte is in veertien verskillende kategorieë toegeken. Die vroue het sowat 23,6 uit 30 teenoor die 19,8 uit 30 van die mans behaal, berig The Telegraph.

e69dade5b79ee696b0e997bb_e38090e69dade5b79ee78eb0e5a5b3e58fb8e69cbae4b893e794a8e8bda6e4bd8d_e99da2e7a7afe69bb4____e69da5e887aae992b1

In dié studie is onder meer bevind sowat 24% van mans teenoor 16% van vroue het hul selfone (per hand) in die verkeer gebruik, slegs 1% van vroue teenoor 14% van mans het gevaarlik “ingesny” in verkeer, meer as die helfte van die mans het deur ’n geel lig wat amper rooi was gery, teenoor slegs 14% van vroue.

Boonop is vroue meer beleefd as mans op die pad – 39% teenoor 28%.

Watwou! Ons moet maar oë toeknyp vir nare aanhalings op die internet soos: “Women drivers are like stars in the sky. You can see them, but they can’t see you …”

Lees nou

Kyk hier! Die amptelike lokprent van Sy Klink Soos Lente!

Karlien binnekort gestrand in die Seychelle

Het jy geweet jy kan dít op Facebook & Instagram doen?