David Beckham en prins William stel hul nuwe bewaringsveldtog bekend FOTO: Twitter (@united4wildlife)

Het jy gehoor?

Wat het Francois Pienaar, David Beckham en prins William gemeen?

Voormalige Springbok-kaptein Francois Pienaar span kragte saam met mede-sportheld David Beckham én prins William. Hul doel? Om wilde diere te beskerm, berig Hello!.

Francois is een van die sportsterre wat onder die leiding van Becks en Wills deelneem aan ’n nuwe veldtog vir die stigting United for Wildlife. William is die president van dié stigting, wat saamgestel is uit sewe bewaringsorganisasies, asook die Royal Foundation – die liefdadigheidsorganisasie van die jong koninklikes, William, Kate die hertogin van Cambridge, en prins Harry.

Met die veldtog #WhoseSideAreYouOn wil William die impak van sport en sportsterre gebruik om mense regoor die hele wêreld bewus te maak van bewaringskwessies. David lei ’n span sportsterre, waaronder Francois en Wimbledon-kampioen Andy Murray, wat dié veldtog ondersteun. Dié sportsterre hoop om saam met William jong mense se ondersteuning deur sosiale media te werf in die stryd teen die onwettige handel van wildleweprodukte.

William en David het die projek gister in Londen bekend gestel én afgeskop tydens ’n praatjie oor die gevaar om onwettig te jag.

“Ek wil ’n verskil maak en as ek dit kan doen deur net iets belangrik soos dié saak in die kollig te plaas, is dit ’n goeie ding,” het David vir verslaggewers vertel, berig Daily Mail.

Prins William het verduidelik dat die organisasie wilde diere wil beskerm deur die vraag na onwettige wildlewe-produkte te verminder en die sakewêreld te help om onwettige handel te bekamp. ’n Groot probleem is onwettige stropery – soos met die renoster-horings wat ons op eie bodem ervaar.

William het in Februarie ’n internasionale konferensie oor die onwettige wildstropery in Londen bygewoon saam met sy pa, prins Charles, en broer Harry. Wêreldleiers by dié geleentheid het oplossings gesoek vir onwettige handel in renosterhoring, tier-ledemate en olifante se tande.

Bronne: Daily Mail en Hello!