sr1306_hoofself10
Het jy gehoor?

Wat jy by Melinda Bam kan leer …

Melinda Bam, Mej. Suid-Afrika 2012, moes op 19 Desember verlede jaar in Las Vegas, Texas, vrede maak daarmee dat een van haar grootste drome gesneuwel het. Hoewel sy nie die Mej. Heelal-kroon huis toe gebring het nie, het dit haar wel aangevuur tot nuwe uitdagings.

WAT NOU?

“Ek het die kroon aan my vingerpunte gevoel met die aanbreek van Mej. Heelal. Op die groot aand het ek gevoel soos ’n atleet wat uit sy wegspringblokke wil breek. Ek wou as Mej. Heelal nuwe kulture beleef en Suid-Afrika se ambassadeur wees. Dit was soos ’n roeping. Toe ek op die groot aand in my goue rok van die Suid-Afrikaanse ontwerper Peter Bondesio op die verhoog stap, was daar by my geen twyfel dat ek sou wen nie. Maar toe ek nie in die top-5 was nie [sy was in die top-10], het my wêreld stil geraak. Mej. Amerika, Olivia Culpo, het gewen. Ek het gewonder waar ek te kort skiet. En toe dink ek: ‘Wat nou?’ Ek moes my toekoms góú in ’n ander rigting stuur.

“Gelukkig het vriende en familie steeds in my geglo. Dit het my baie gehelp. Ek glo ook as een deur toegaan, gaan ’n ander een oop. Dankie tog vir my kosbare vriend, Adriaan Bergh [Mnr. SA 2011], ’n sakeman van Pretoria, wat ek kort ná die Mej. Heelal-wedstryd vir ’n vakansie in New York ontmoet het. Daar gebeur iets magical met jou selfvertroue as jou geliefde en sielsgenoot jou ondersteun. Hy bid selfs saam met my as ek hartseer is.

“Ek het besef ek moes my energie en passie vir Suid-Afrika net op ’n manier gebruik. Nou is ek opgewonde oor 
my nuwe onderneming, Bambshell, ’n swem- en ’n onderklere-reeks. Dit word aan die einde van die jaar bekend gestel. Om deur ontwerp terug te
keer na my kunstenaar-wortels is ’n avontuur. Ek voel ek help vroue om hul kurwes, sagtheid en sensualiteit te vier.

“Die reeks het my ook gewys wat ek kon regkry toe die lewe my aan die diepkant ingegooi het.”

LIEF VIR SA

“Ek het in die begin van die jaar ook betrokke geraak by ’n projek waardeur ons hopelik sowat 411 laerskole in Mpumalanga sal bereik. Dié inisiatief is begin deur die Ziya-stigting,’n organisasie sonder winsbejag.
Dit is geïnspireer deur die boek Mpumalanga, Our Beautiful Province deur Sabelo Mahlalela [African Perspectives, R455]. Kinders sal kan deelneem aan ’n opstelwedstryd waarin hulle enige aspek van dié provinsie kan besing. Die beste skryfwerk sal vervat word in ’n bundel. Die publiek sal ook uiteindelik saam met borge kan stem watter tien kinders deel sal word van ’n mentorskapprogram.

“Dié program sal hopelik mettertyd landwyd uitbrei. Ek is deel van
 die bemarkingspan en sal onder
meer praatjies lewer by skole oor my liefde vir Suid-Afrika. Ek sal ook natuurbewaringsorganisasies probeer werf om deel te wees van die mentorskapprogram.

“Ek wil ’n verskil onder die jeug maak. Dit is lekker om betrokke te wees by ’n projek wat my so trots laat voel op Suid-Afrika.”

WAT EK GELEER HET

  • Wees dapper en ontdek die onbekende. Dán sal jy groei.
  • Dit maak nie saak hoe jy val nie, maar hoe jy opstaan.
  • Werk sag en mooi met jouself as die lewe jou teleurstel.
  • Vertrou op God.
  • Jy is nie ’n produk van jou omstandighede nie, maar van jóú keuses.
  • Kreatiwiteit is die beste terapie op aarde.

Klik ook op www.melindabam.com

Twee ander vroue vertel in die Junie-uitgawe van SARIE hoe hulle húl teenspoed vir hulle laat werk het. Nou op die rakke!