sarie_aug_cov02
Het jy gehoor?

Wat maak dié Egoli-sterre nou?

Brümilda van Rensburg (Louwna)

Waarmee is jy tans besig?

Ek is bitter besig met my dramakursusse en -agentskap, met net ’n span van vier, maar ek sou dit nie anders wou hê nie. Gaan loer gerus by www.brumilda.com.

Verder kry ek baie aanbiedings en dit beteken vergaderings en keuses wat ek moet maak. Tekste en boeke wat gelees moet word.

*Brümilda is tans te sien in die kykNET-reeks (kanaal 111 op DStv), Hartland, waarin sy die rol van Rika, ‘n predikantsvrou, speel.

Mis jy Egoli?  
Vir seker.

Wat mis jy die heel meeste?
Die samesyn, saamwerk en sukses. Al was dit elke liewe dag bloedsweet, het ek geweet ek werk aan iets wat almal kyk en geniet.

Hoe het jou lewe verander sedert Egoli geëindig het?
Roetine, verkeer, woorde leer en 5 uur opstaan is nie meer deel van my lewe nie. My tyd is my eie, so ek het meer tyd vir myself en die mense wat ek liefhet.

Wat was vir jou die grootste uitdagings sedert Egoli geëindig het?
Selfondersoek is vir my aan die orde van die dag, en om myself van nuuts af te leer ken sonder al die daaglikse glitz en glam … Agttien jaar is ʼn lang tyd om op aandag te staan – nou is dit tyd vir rus en introspeksie.

Wat lê vir jou voor in 2012?
Ek is reeds vir 2012 ʼn verhoogproduksie aangebied. Meer weet ek nie.

Michelle Beling

Michelle Beling (Candy)

Waarmee is jy tans besig?

Ek werk in die oggend as kliënte-skakelbeampte vir RICOH Motswako. Ek is baie bly om deel te wees van hierdie wonderlike span; hulle is regtig my familie-weg-van-die-huis-af. Hulle is daar wanneer dit sleg gaan en het my onder hul vlerk geneem. Ek is mal oor PR en bemarking.

Mis jy Egoli?

Ja, verskriklik!

Wat mis jy die heel meeste?

Ek mis my vriende en die klein familie wat daar ontstaan het.

Hoe het jou lewe verander sedert Egoli geëindig het?

Verandering is altyd goed, en God stuur sekere uitdagings op ons pad vir spesifieke redes. Ek het baie oor myself geleer en wat ek in die lewe wil hê.

Wat was vir jou die grootste uitdagings sedert Egoli geëindig het?

Ek probeer steeds as aktrise werk, maar mense sien my net as Candy en wil my nie as iemand anders aanvaar nie.

Die Engelse bedryf is ook op die oomblik baie stil. Dit is baie moeilik om nie te kan doen waarvoor ek so ‘n groot passie het nie.

Marcus Muller

Marcus Muller (Liam)

Waarmee is jy tans besig?

Ek is voltyds besig met opnames vir Villa Rosa, waarin ek die seun van prof. Fritz Retief speel.

Mis jy Egoli?

Ja, geweldig. Dit was my bekendstelling aan die bedryf en ʼn ware leerskool. Dis seker dieselfde gevoel wat ʼn mens kry as jy jou alma mater met deernis mis.

Wat mis jy die heel meeste?

Ons was ʼn baie groot familie en almal het nou saam gewerk. Die ondervinding wat ek opgedoen het, van dié magdom talent op stel, is iets wat altyd na aan my hart sal lê.

Hoe het jou lewe verander sedert Egoli geëindig het?

In hierdie stadium het my lewe nie veel verander nie, aangesien ek steeds voltyds aan ʼn sepie werk. Dit is dalk net ʼn bietjie rustiger.

Wat was vir jou die grootste uitdagings sedert Egoli geëindig het?

My grootste uitdaging tot dusver was om ʼn gedaanteverwisseling van karakters te ondergaan. My karakter nou is ’n proffie in geskiedenis én ʼn prokureur! Omdat dit redelik naby is aan my karakter in Egoli, was my uitdaging om dit vir die kyker twee verskillende mense te maak. Danksy teks en leiding dink ek ek het dit taamlik goed reg gekry.

Wat lê vir jou voor in 2012?

Nog ʼn jaar van Villa Rosa. Danksy nog ʼn kontrak skiet ons al aan die agtste jaar van Villa Rosa!

Lindie Strydom

Lindie Strydom (Karin)

Waarmee is jy tans besig?

Ek is reeds sedert Februarie 2009 die skakelbeampte van Solidariteit Helpende Hand, sedert April 2010 die aanbieder van DKNT Gospel op kykNET en die afgelope 10 jaar geestelike motiveringspreker. 

Mis jy Egoli?

Ek het in Augustus 2008 bedank omdat ek gevoel het my tyd daar is ná 12 jaar verby. Ek het nie geweet wat daarna sou volg nie, maar moes die stappie van gehoorsaamheid neem en my kleintyd-droom van eendag Stephen Edwards se meisie wees, vaarwel roep.

Ek was my laaste dag op stel baie hartseer, maar terselfdertyd het ek geweet dis reg dat ek gaan, en was ek ook tevrede om te gaan. Ek het gevoel dat ek alles wat ek wou doen, elke storielyn en gesprek wat ek gevoel het ek moes hê, wel gehad het – dit was klaar.  

Min het ek geweet watter avontuur vir my ná Egoli sou voorlê! Dit klink seker hard en klinies, maar nee, ek mis Egoli nie een dag nie. Ek geniet myself gate uit in my nuwe rolle van skakelbeampte en aanbieder, en is veral dankbaar vir die ekstra tyd saam met my gesin.  

Wat mis jy die heel meeste?

Ongetwyfeld die mense! Ons het baie nou saamgewerk en goeie vriende geword. Ons was bederf om mekaar elke dag te sien, boonop sommer vroegoggend met deurmekaar hare en sonder enige grimering – op jou eerlikste! 

Jy bestee soveel ure saam op stel: Ons het saam rugby gekyk, oor die land se probleme gedebatteer, gesien hoe kollegas trou en kinders kry en as ʼn span ongelooflik hard gewerk om die produk, Egoli, die beste te maak wat ons kon!

Ek was maar 18 jaar oud toe ek daar begin het en onthou hoe opgewonde almal was oor my eie verlowing en troue, en later al drie my kinders.  

Ons het saam gehuil en fees gevier en tot vir die mans ooievaarstees gereël.

Hoe het jou lewe verander sedert Egoli geëindig het?

Handomkeer … van “glamorous” Karin Edwards, wie se karakter geskoei was op ʼn prinses Diana, tot die voltydse skakelbeampte van Solidariteit Helpende Hand, waar ek meestal in jeans en tekkies woeker!  

Ek het vanjaar ʼn werksessie begin, genaamd “Sarie Marais kan ook die wêreld verander” – gemeenskapsbetrokkenheid vir “gewone” mense. Ek deel die lesse wat ek die afgelope twee jaar by Helpende Hand geleer het. Juis omdat ek nie ʼn kenner of spesialis is nie, maar eerder net ʼn gewone vrou, ma en lid van my gemeenskap, word dit goed ontvang en neem dit die intimidasie uit “gemeenskapswerk”.

Wat was vir jou die grootste uitdagings sedert Egoli geëindig het?

Ek werk nou baie harder. Alhoewel ons lang ure op stel was, was die fisieke werk en die kompleksiteit nie naastenby wat ek vandag moet hanteer nie. By Egoli het ek elke dag ʼn episode afgehandel, dit is bevredigend, want jy kan sien wat jy vandag gedoen het. Hier by Helpende Hand is my werk nooit klaar nie. Ek maak lysies in my slaap en op die trapmeul.

Die aanbiederswerk is ʼn lekker uitdaging. Ek kyk nou binne-in die kamera en speel myself. (Ek vermoed ek is dalk ʼn beter aanbieder as aktrise, wonder wat dink die ou Egoli-kykers?)

Wat lê vir jou voor in 2012?

My leuse is die Prediker se woorde: “Dien, doen en geniet.” Ek doen wat vandag gedoen moet word en ontdek die wonderlikste geleenthede op my pad. Ek wil nie een dag verby wens nie!  

My oudste seuntjie gaan volgende jaar graad 1 toe. Ek sien uit na die nuwe seisoen saam met hom, ek wil graag groei as aanbieder.

Hier by Helpende Hand wil ek graag in die volgende 18 maande meer vroue help om by ʼn plek te kom waar hulle hul gemeenskappe kan dien, want ek weet dis ʼn universele behoefte om te kan omgee.

Vroue het soveel balle in die lug en weet nie altyd wanneer of hoe nie, maar as deel van ʼn span is jy al ʼn treetjie nader! 

Mandi Baard

Mandi Baard (Lara)

Waarmee is jy tans besig?

Ek is ’n veldaanbieder by Kwêla en projekbestuurder by The Ceres Beverage Company.

Mis jy Egoli?

Ja, baie!

Wat mis jy die heel meeste?

Al die ongelooflike mense en om elke dag te kon toneel speel, my passie en liefde.

Hoe het jou lewe verander sedert Egoli geëindig het?

Ek het direk ná Egoli in die korporatiewe wêreld begin werk. Alhoewel ek in die rigting studeer het, was dit ʼn skok, aangesien die wêrelde só verskillend is.

Wat was vir jou die grootste uitdagings sedert Egoli geëindig het?

Ek het die geleentheid gehad om ander uitdagings te ontdek. Ek geniet my rol as veldaanbieder by Kwêla vreeslik, en die verandering van aktrise na aanbieder was ʼn wonderlike ervaring.

Wat lê vir jou voor in 2012?

Hopelik hope avontuur. Ek is lief vir die lewe en waardeer elke uitdaging wat ek al in my taamlike kort lewe ervaar het.

Gelukkig het ek ook op ‘n vroeë ouderdom die geleentheid gehad om soveel dinge aan te pak, so “spyt” is nie ʼn woord wat in my woordeskat bestaan nie.

Ek is ook al drie en ʼn half jaar getroud, so ʼn gesin is seker ook in die toekomsplanne – wie weet …

Wat ek wel weet, is dat ek NOOIT wil ophou toneel speel en aanbied nie. Dis ʼn werk wat nie soos werk voel nie, so hoe gelukkig kan ʼn meisie wees!

  • Adri

    Interessant, maar wat van die sterre wat nooit op ‘n voorblad beland het nie en ook nooit aan aandag gegee word nie, ons sal graag wil weet wat Christene Basson en Rod Alexander nou doen, altwee ou staatmakers!!!!