FOTO Webtuiste

FOTO Webtuiste

Het jy gehoor?

Wie is Henri Schoeman?

Baie Suid-Afrikaners het moontlik die eerste keer Henri Schoeman se naam gehoor nadat hy ’n bronsmedalje gekry het vir driekamp by die Olimpiese Spele in Rio.

En nee, hy is nie die swemmer Roland Schoeman se jonger broer nie! Henri is geklop deur die Brownlee-broers van Brittanje, Alistair (eerste) en Jonathan (tweede). Die Suid-Afrikaner Richard Murray het net sewe sekondes ná Henri klaargemaak in die vierde plek.

Henri het oor sy brons aan die koerant Beeld gesê: “Ek probeer dit nog glo. Ek bedoel, ek het vir jare geglo ek kan een of ander tyd ’n Olimpiese medalje om my nek hê en ek droom al so lank ek kan onthou daarvan, maar nou voel dit onwerklik. Miskien wanneer ek môre met die medalje wakker word sal ek dit glo, maar vir nou probeer ek net alles om my indrink.”

Hy was twee dae voor die wedloop siek met koors en het gedink sy Olimpiese droom is verby. Maar gelukkig vir Suid-Afrika is hy Woensdag gesond verklaar en kon hy wel aan die driekamp deelneem. Hy dink ook die feit dat hy ’n buiteperd was, het hom gehelp. Met geen intense aandag op hom nie, kon hy ’n aanslag maak op goud.
So het Henri getwiet oor sy prestasie:

Hier is ’n paar goed oor Henri:

1. Hy is in 1991 in Vereeniging gebore, maar woon nou in Durban. Sy huistaal is Engels.

2. Hy het al aan verskeie sportsoorte deelgeneem, soos “surf life saving”, veldloop en swem.

3. Hy word afgerig deur Joe Schoeman, en Alisdair Hatfield is sy swemafrigter.

4. Hy het nog nie voorheen ’n internasionale driekamp-medalje gewen nie. Maar hy het al onder die top-5 geëindig in die Internasionale Driekampvereniging (ITU) se Wêreldreeks.

5. Hy het twee keer (2009 en 2011) reeds stresfakture gehad in sy skeen, en in 2011 het hy sy sleutelbeen gebreek.

6. Hy blog graag en het sy eie blog.

Bronne: Netwerk24, Henrischoeman.com ITU World Triathlon Series