FOTO Twitter @David_Cameron

FOTO Twitter @David_Cameron

Het jy gehoor?

Britse politiek: Wie’s uit, wie’s in en die kat bly

Downingstraat 10 het ’n nuwe intrekker. Dis niemand anders nie as die nuwe eerste minister van Brittanje, Theresa May. Die voormalige premier, David Cameron, moes gister dié adres ontruim om plek te maak vir die huis se nuwe inwoners. Maar een huisgenoot bly, Larry die kat!

Volgens USA Today sal die muisvanger van formaat steeds op sy pos wees en diens doen vir die nuwe premier. Larry sal sorg dat daar geen muise en rotte tuisgaan waar hy die baas is nie. Gister het David Cameron die media toegespreek en op vrae oor Larry se toekoms het hy geantwoord: “Sadly I can’t take Larry with me, he belongs to the house, and the staff love him very much, as do I.”

Net om bewerings dat hy nie van katte hou nie die nek in te slaan, het hy ’n foto getwiet waar Larry op sy skoot sit. Dis volgens hom ’n “bewys” dat hy van katte hou.

Larry het sy intrek in Downingstraat 10 op 15 Februarie 2011 geneem. Personeel van die huis het hom gekies uit katte van die Battersea Dogs and Cats Home om diens te kom doen as muisvanger nadat hulle rotte op die perseel gesien het. Sedertdien het hy dikwels in die kollig gekom en is selfs saam met Amerika se pres. Barack Obama afgeneem. Sy doen en late is deur die media dopgehou en hy het ook ’n hele paar keer in die Engelse koerante verskyn. Boonop is daar ’n boek oor hom geskryf deur James Robinson, ’n voormalige joernalis van The Guardian. Die titel is Larry Diaries: Downing Street – the First 100 Days en dis in 2011 uitgereik.

Dis dus ’n geval van die kat bly baas van die plaas! Hopelik sal Larry hom kan tuismaak op Theresa May se skoot.

FOTO hieronder: Larry buite die deur van Downingstraat 10 op David Cameron se laaste dag as inwoner.

Bronne: USA Today en WIkipedia