Het jy gehoor?

Wil jy jou eie potjie krap? Beantwoord eers dié 5 vrae

In die Junie-uitgawe van SARIE gesels ons wat jy moet doen as jou werkfut uit is. Maar maak seker jy beantwoord eers dié 5 vrae voordat jy jou eie potjie krap!

Is dit tyd om te bedank? Beantwoord eers dié 5 vrae … 

Dink eers baie goed voor jy bedank om jou eie potjie te krap. Riëtte Ackermann, bestuurskonsultant en lewensafrigter van Johannesburg, stel voor dat jy jouself eers afvra…

  • Jy en jou lewensmaat moet ’n indringende gesprek hê en al die moontlikhede ondersoek. As jy geldelik afhanklik van hom/haar gaan wees terwyl jy jou eie besigheid opbou, hoe gaan hy/sy dit verwerk? En sal jóú selfbeeld dit kan hanteer?
  • Dink terug oor jou loopbaan en die posisies wat jy beklee het. Wat het jy geniet, wat nie? Probeer identifiseer wat dit was wat jy stimulerend gevind het. As jy vir jouself wil werk, maak seker dit voldoen aan al dié eienskappe.
  • Dit kan eensaam raak om vir jouself te werk. Vind vooraf oor sakenetwerke uit of sluit by ’n paar aan vóór jy bedank. Besluit om gereeld met kontakte ’n koppie koffie te gaan drink om verhoudinge op te bou en op hoogte van sake te bly.
  • Hoe lank gaan dit neem voor jy jou eie geld in jou nuwe besigheid gaan verdien en om  dieselfde vlak van inkomste te bereik waar jy nou is? Wanneer gaan jy dit begin oorskry? Wie gaan jou kliënte wees? Wat gaan jy nodig hê [‘n rekenaar, telefoon, kantoor]? Het jy geld vir alles?
  • Miskien wil jy eers begin met ’n deeltydse werk wat help om al die huis se basiese geldelike uitgawes te hanteer totdat jy jou passie (s) ontwikkel het in ’n winsgewende besigheid. Dan kan jy moontlik eers vir ’n tyd lank spaar sodat jy die eerste drie maande se uitgawes van die nuwe besigheid kan dek?

NAVRAE: Riëtte Ackermann | 082 393 0160 | ackermann@gibs.co.za