FOTO: Verskaf

Het jy gehoor?

Só wil TV-glansvrou Shemane Harris 10 kg afskud + 6 wenke

“’n Mens het ’n stryd met jou lyf in jou middeljare. Jy stoei met die gewig.”

Aan die woord is TV-glansvrou Shemane Harris, wat sowat ’n jaar gelede nog gas-aanbieder van die kykNET-joernaalprogram Kwêla was. Sy beoog om binnekort weer “iets” in die TV-bedryf te doen, maar kan nog nie presies sê wat dié werk sal behels nie.

Sy wil nou 10 kg skud. “Ek het die afgelope vier jaar sowat vier kleregroottes ‘aangesit’, bloot omdat ek nie gekyk het wat ek eet nie. Op 51 verander jou liggaamsvorm ook. Dit is skielik asof alles in jou kas ‘krimp’,” spot sy met haarself.

“Ek het nie meer mooi gevoel as ek soggens in die spieël kyk nie. En noudat ek ouer is, is my lyf strammer. Daarby veroorsaak die ekstra gewig dat ek nie meer so soepel is nie. Dít is hoekom ek gereken het dit is nou tyd om in te gryp met ’n goeie eetplan.”

Sy het begin deur ’n paar weke gelede haar boepie met ’n vetoplossingsinspuiting te laat inspuit. “Ná ’n week was my bolmagie plat. Ek was verheug …”

Verlede week het sy ’n hormoonkenner gesien wat haar gehelp het met ’n dieetplan. “In dié stadium eet ek geen vette of koolhidrate nie en vermy rooivleis. En my porsiegroottes is so groot soos die palm van my hand. Ek eet hoofsaaklik vis, hoender en groente en twee vrugte per dag.”

As sy régtig smag na ’n peuselhappie, eet sy komkommerskyfies, ’n tamatie of spruitkool (vooraf gaargemaak). En sy drink twee liter water per dag.

Alkohol is uit, maar ek het Saterdag, toe almal Valentynsdagvierings gehou het, wel saam met vriende wyn gedrink. Die truuk is net om die vogende dag weer aan te gaan met die eetplan.” Sy drink een koppie filterkoffie soggens, met twee tot drie lepels verromer en versoeter. “Die lewe is te kort vir kitskoffie.”

Hoewel sy nog net sewe dae “reg’” eet, voel sy reeds haar klere sit aansienlik losser en haar liggaamsvorm het verander. “My silhoeët lyk beter, want my maag is platter. Dit is amazing as jy voel jy kry jou vorm stelselmatig terug. Die joy, jy verstaan nie. Ek kyk nooit na die skaal nie. Dít moet die hormoonkenner maar doen as ek haar gaan sien. Die sukses van gewigsverlies begin altyd by my emosionele welstand. Ek het die kopskuif gemaak en voel oukei. Ek sal die selfdissipline hê om deur te druk en beoog om die gewig binne agt weke te verloor … ’’

En hoe gemaak as sy haar “af’”-dae kry en verkeerde kosse wil eet? “Ek motiveer myself deur te visualiseer hoe ek gaan lyk as ek maer is. Dit hou my uit die kwaad.”

Shemane se wenke om maer te bly

  • Besluit jy wíl op ’n gesonde manier gewig verloor.
  • Neem baba-treetjies. Jy hoef nie alles op een slag te verloor nie. Stel realistiese doelwitte.
  • Maak klein aanpassings in jou dieet. As jy lief is vir sjokolade, kan jy dalk een klein sjokolade pleks van ’n hele pak per dag eet.
  • Jy moet maniere vind om nie die heeltyd ingedoen te voel nie, want dan gaan jy in ‘n stadium net oorgee en alles wil eet wat voorkom. As jy byvoorbeeld baie lus is vir iets soos kitskos of ’n stuk koek, eet dit. Gaan daarna net weer aan met die eetplan. Moet net nie ’n gewoonte daarvan maak nie.
  • Moenie maaltye uitsny omdat jy gewig wil verloor nie, want dan raak jy rasend honger.
  • Jou lyf is “reg” wanneer jy gelukkig is met jou gewig. Nié wanneer jy dieselfde weeg as ’n topmodel of wanneer jou kêrel sê jy moet ’n nr. 32-broek dra nie.

Lees nou