Het jy gehoor?

Willem Botha maak geskiedenis op Europese verhoog

Willem Botha gaan in Mei die Eurovision-verhoog saam met die span van Belarus betree.

Die lied wat hy saam met die sangeres Alyona Lanskaya gaan sing, is “Solayoh!” (Kliek hier om na die musiekvideo te kyk.)

“Dit is ‘n droom wat waar geword het!” het Willem gesê. “Ek dink elke Suid-Afrikaanse kunstenaar droom daaroor om op die Eurovision-verhoog te wees. Ek voel baie geëerd om deel te wees van die Belarus-groep.”

Willem vertrek op 23 April vir dié Europese kompetisie. Die kompetisie tussen die 56 lande wat deel van die Europese Uitsaai-unie uitmaak, word sedert 1956 aangebied. Elke land kies ‘n lied wat dan regstreeks op televisie en radio uitgevoer word, waarna die populêrste lied deur ‘n stemproses bepaal word.

Voordat Willem in Swede, waar die kompetisie vanjaar aangebied word, land, sal hy eers in Serwië ‘n draai maak om saam met die pragtige Alyona te repeteer. Hulle sal daarna na Brussel vertrek waar hulle die lied sal sing. Hier sal Willem ook van sy eie liedjies sing. Daarna gaan hulle Swede toe om aan die kompetisie deel te neem.

Wenners van dié kompetisie in die verlede sluit groot name in, soos ABBA (1974) en Celine Dion (1988).

Willem is nie heeltemal onbekend aan die Europese gehoor nie. Hy het vroeër vanjaar in Nederland getoer en op Nederlandse en Belgiese televisie en radio gesing. Sy lied, “Breek op in stereo”, speel steeds daar op radio en die musiekvideo daarvan word op ‘n musiekkanaal uitgesaai.

[box:full:red:both]

Eurovision in Afrikaans

[/box]

Wat jy dalk nie eers besef het nie, is hoe baie Eurovision-liedjies deur Afrikaanse kunstenaars opgeneem word. Eurovision South Africa is verantwoordelik hiervoor. Van hulle sluit in:

  • Ierland se lied van 1970, “All kinds of everything”, wat Manuel Escorcio opgeneem het as “Soveel herinner my”.
  • Luxemburg se lied van 1972, “Après Toi”, wat Bles Bridges en Gé Korsten opgeneem het as “Glo in die lewe”.
  • Spanje se lied in 1973, “Eres Tú”, wat Rina Hugo opgeneem het as “Jy’s vir my”.
  • Duitsland se lied in 1982, “Ein Bisschen Frieden”, wat Gerrie Pretorius opgeneem het as “Net soos ‘n wilger”.
  • Nederland se lied van 1984, “Ik hou van jou”, wat Gé Korsten, Jannie Moolman en Eden opgeneem het as “Ek hou van jou”. (Sien die musiekvideo van Gé Korsten se weergawe onder dié artikel.)
  • Ysland se lied van 1991, “Nina”, wat Bles Bridges opgeneem het (met gelyknamige titel).
  • Frankryk se lied van 2002, “Il Faut du Temps”, wat Patricia Lewis as “‘n Nuwe lewe” opgeneem het.
  • Duitsland se lied in 2006, “No No Never”, wat Karen Ferreira opgeneem het (met gelyknamige titel).

*Willem is die eerste Suid-Afrikaner op die Eurovision-verhoog wat slégs Suid-Afrikaanse burgerskap het.

Bronne: Eurovision en Escunited